Sunday, June 29, 2008

Ons karatekas lewer uitsonderlike prestasies!

- Diana Koorts -

Saterdag 31 Mei was dit weer die Goju Ryu Suid-Afrikaanse Karate kampioenskappe wat te Paul Roos op Stellenbosch gehou is. Die kompetisie was - soos in die verlede - baie sterk en van ’n hoë standaard.

Prince Albert se karatekas het vanjaar nie aan die Wes- Kaap se Kampioenskappe deelgeneem nie, aangesien dit op die skool se sportdag geval het. Ons het dus ’n spesiale vergunning gekry om direk aan die SA’s te mag deelneem. Die senuwees het maar geknaag, want niemand het insae gehad van hoe die teenstaanders van die Wes Kaap lyk nie!!!

Anchen Marais het haar bes gedoen en elke moontlike tydjie die kwartaal ekstra met die span geoefen. Sy was egter baie optimisties en het sommer die hele span – 11 karatekas – ingeskryf vir die kompetisie. Van vroeg af het ons karate-kas begin deelneem en almal het kennis geneem van dié span wat die een na die ander medalje inpalm. Aan die einde van die dag kon ons ons eie oë nie glo toe ons met 4 goue, 3 silwer, 2 brons en 1 vierde plek kan huistoe kom nie.

Baie geluk aan sensei Anchen Marais – met sulke puik uitslae kan sy nog vele hoë hoogtes bereik!! Ons wens haar alle sukses toe vir die volgende 2 jaar se harde oefening wat voorlê. 2009 word die SA’s in Namibië gehou – hul vier dan hul 30-jaar lange onafhanklikheid. In 2010 word die Wêreldkampioen-skappe hier in Suid Afrika gehou – voorwaar iets om voor te oefen en ’n GROOT geleentheid vir ons kinders.

Baie geluk aan al die karatekas – jul hou Prince Albert se naam sommer hoog en al hoe meer mense neem goed kennis van ons pragtige dorp. Anchen – Jy weet nou presies waartoe jy in staat is. (Indien iemand ’n bydrae wil maak om ons karatefonds te verstewig – kontak Anchen by die Koöperasie gedurende werkstyd).

No comments: