Friday, December 14, 2007

Leeu Gamka hou Erfeniswerkswinkel

Op Vrydag 2 November 2007 het Leeu-Gamka se Toerismeforum ‘n baie geslaagde werkswinkel gehou waarby alle bestaande organisasies, kerke, politieke partye en besighede bertek is.

Dr Frans Jordaan van DEAT Nasionaal en professor Bakker van die Universiteit van Johannesburg het as fasiliteerdes opgetree. Mnr Leon Voster, hoof van Museumdienste in die Wes-Kaap, het waardevolle insette gelewer. Wat die werkswinkel veral besonders gemaak het, was die teenwoordigheid van dr Judy Maguire en mnr Bokkie Botha van Prince Albert, en hul bereidwilligheid om betrokke te raak by Leeu-Gamka se projekte en aktiwiteite. “Daar is so baie kundiges op Prince Albert en die Toerismeforum sal graag wil sien dat hulle almal betrokke raak, want ons omring ons met kundiges van wie ons meer kan leer”, was die inleidingswoorde van die Forum se voorsitter, Letitia Solomons.

In haar toespraak vertel me Solomons dat Leeu-Gamka, wat tans nog die status van ‘n nedersetting het, se eerste bewoners die Khoi en San was – haar voorouers. Khoisan woorde wat behoue gebly het, is Gamka en Dwyka. Tog was die plekkie se eerste naam Bitterwateruitspanning. Al het die water na kruit geruik en al was dit baie brak, was dit steeds ‘n lafenis vir moeë reisigers en trekdiere. Daarna was dit bekend as Fraserburg-Wes en toe word dit Leeu-Gamka: Waar die Leeu en Gamka (wat ook leeu beteken) ontmoet.
‘n Vooruitstrewende dorpie, waar vier passassierstreine per dag stop, ontwikkel toe om die stasie met sy miernes van bedrywigheid soos vragte op- en afgelaai word. Mense soos Paul Kruger en Cecil John Rhodes maak ook ‘n Karoo draai hier...

In hierdie dae wemel Welgemoed en Bloukoppies van makoekoes en Makoekoebult is vol bont sinkhuisies, die binnemure deftig versier met boekblaaie wat nie ‘n tree terugstaan vir winkelplakpapier nie. Daar is Newton Park, Die Gat, Stasie en die Ou Lokasie (Rosemore vir die die geleerdes). Kleihuise, kliphuise en enkele steenhuise neem die grys verlatenheid van die omgewing aan. Sommige huisies lyk later, verweer deur jare se wind en weer, soos perde wat klein-klein holrug gery is, maar die inwoners bly trots daarin. Seer is dit vir baie van hulle toe hulle hul “gehuggies” moet verlaat om in die nuwe skema te gaan bly. Hulle stort trane, want ‘n hele leeftyd moet agterbly en word platgestoot. Mense van Letjiesbos, Luttig, Kruidfontein, Swarts, Dwyka, Prince Albertweg en Palmiet word almal hierheen gebring.

Uiteindelik word die pragtige stasie, die netjiese kantore en geboue toegemaak - soos ‘n boek toegemaak en weggebêre word. Families word weer ontwortel, of neem pakkette en trek weg. Die leerders word al minder en so bloei die eens lewenskragtige dorpie stadig dood. Werksgeleenthede is daar omtrent nie - en daarmee saam kom armoede, met sosiale en ekonomiese verval wat die hoogte ingeskiet. In die Sentrale Karoo word Leeu- Gamka as die armste dorp, ‘n welsynsdorp, beskou. Rassisme is hier ook nie net ‘n
kleurkwessie nie. Leeu-Gamka se rassisme het ook te make met die wat het, en die wat niks het nie. Watter motor jy ry, en watter “skoroskoro” ek ry. Wie watter werk moet kry, en wie in armoede vasgestrik by die huis moet bly.

“Maar vandag, 2 November 2007”, het Latitia Solomons gesê, “is die begin van ‘n nuwe toekoms vir elkeen wie graag daarin wil belê. Dr Jordaan en professor Bakker, Judy Maguire en Bokkie Botha, wil saam met die Toerismeforum help om van Leeu-Gamka ‘n beter plek te maak. Toerism bring werk, en werk beteken geld, en geld beteken ‘n beter lewe en ‘n beter lewe beteken ‘n gesonde gemeenskap. Ons sit met die N1 as polsende goudmyn - en dit word nie benut nie. Duisende toeriste ry daagliks hier verby en dit pla ons nie. Honderde is werkloos, maar ons is tevrede met sporadiese werksgeleenthede op die pad en op ons plase.”

Sy het haar toehoorders oortuig dat, as almal saaamwerk, Leeu-Gamka weer ‘n ware “Oasis in die Sentrale Karoo” kan word.

No comments: