Friday, December 14, 2007

Ledigheid is die duiwel se oorkussing…

Ledigheid is die duiwel se oorkussing… so het ouma Rachel Debora Mynhardt altyd vir my gesê as sy so bo-oor haar bril vir my loer, terwyl sy die kalbassie in nóg ‘n stukkende sokkie steek, of die fynste stekies denkbaar op een van ons tuisgemaakte rokkies maak.

Die museum is ‘n absolute skatkis van handwerkartikels, gedoen deur mense wat geglo het hulle moet hul hande besig hou…

Stel jou voor dis die jaar 1899, die Anglo-Boereoorlog is in volle gang. Onsekerheid en angs vier hoogty in ons land. Manskappe word gevange geneem en as krygsgevangenes uit die land geneem na St. Helena, Ceylon, Bermuda en Indië.

Boere in die kampe weier om te werk. Dit het beteken dat, behalwe vir kosmaak, wasgoed was, onderwys aan die penkoppe en boeresport, daar té veel ure van niksdoen was. Tyd moes verwyl word, en die bekommernis oor die vrouens en kinders op plase in die verre Suid Afrika, het hierdie mans laat gryp na enigiets om hul hande mee besig te hou.

Vir ons mense was volkshandwerk reeds voor die oorlog ‘n noodsaaklike deel van hul lewe en het hulle reeds die kuns verstaan om “iets” uit “niks” te maak. Al wat nou nodig was, was ‘n skerp voorwerp soos ‘n knipmes, en stukkies afvalhout, been, klip, blik en horing, en die ledigheid is hokgeslaan!

‘n Stukkie been het die mooiste borsspeld of kandelaar vir vroulief by die huis geword. ‘n Mooi klip is tydsaam uitgekerf totdat dit die perfekte vorm van ‘n familiebybel het. Houtkerfwerk en houtbrand was veral baie gewild onder die krygs-gevangenes.
Die vlytigheid van dié manne met hul knipmesse, en die beskikbaarheid van kisplankies, het tot gevolg gehad dat ons ook vandag, in die Fransie Pienaar Museum, ‘n besonderse verskeidenheid van knipmeskunsfotorame teen ons mure het.

Vir talle Afrikaanssprekendes, wat groot- geword het met vertellings van konsentrasiekampe en afgebrande plase, bly die gebeure wat hom destyds in ons land afgespeel het, steeds ‘n onwerklikheid - totdat jy na al hierdie ongelooflike kerfwerk kyk: eers dán raak die abstrakte stories vir jou iets tasbaars en eie.

Kom kyk gerus na die pragtige knipmeskuns wat ons uitstal, sodat jy ook weer tasbaar deel van ons land se ge-skiedenis kan word.

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: