Friday, December 14, 2007

Kersfees en ‘n Kind se Ontnugtering

-Daddi-

Toe ek nog baie klein was, was ek alreeds bewus van ‘n Kersvader, of “Vader Kersmis” soos ons destyds gepraat het. Ons het daardie tyd nog op my ouers se plasie gebly. Weke voor die tyd het ons al gedroom van die wonderlike geskenkies wat ons verwag om te kry, om nie eens te praat van die lekker koek en “Cider” wat ons ma self gemaak het nie. En ja, gemmerbier wat die prop laat uitskiet. Maar die kersie op die koek was dat Kersvader dan gedurende die nag geskenkies kom aflewer aan kindertjies wat soet was.

Ek wou tog so graag ‘n “mamma”-pop hê, soos een van my maatjies die vorige Kersfees gekry het. Die Oukersaand vra ek toe ook vir my moeder om vir my ‘n kussingsloop op te hang langs my bedjie. My moeder kry ‘n hartseer trek op haar gesig en sê ek moet nie iets van Vader Krismis verwag nie, want daar is so baie kindertjies en ons woon so ver van die dorp. Arme Vader Krismis kan nie so vér loop nie. Ek huil toe met oorgawe, ek wou dan so graag die mamma-pop gehad het. My moeder loop toe uit die kamer en kom na ‘n rukkie wel terug met ‘n sloop. Sy hang dit by my kop, aan die katel. Getroos raak ek aan die slaap.

Skemerdonker die volgende oggend word ek wakker van die mooiste hemelse musiek en ‘n Engel wat sing. Die Heiland is gebore, Bethlehem Ster en Stille Nag. Ek lê asemloos en luister. Ja, dis my moeder wat daar sing en speel op haar serfyntjie. Meteens onthou ek van die kussingsloop. Ek gryp dit vas en ja, sowaar, daar is iets in die sloop.

Ek sukkel met bewerige dom vingertjies om die tou los te kry. Eindelik is dit los en ek steek my hele armpie in die sloop en haal ‘n pakkie uit wat in bruin papier toegedraai is. En daar in my handjie lê ‘n yslike stuk wildsbiltong.

Agge nee, dit kan nie wees nie! Nee, nie dit nie, want daardie wildsbiltong ken ek mos. My ouboet het ‘n week of wat gelede die bokkie geskiet. Ek het nog ewe nuuskierig toegekyk hoe my moeder biltong daarvan sny en met sout invryf. Saans word dit aan hake gehang om droog te word. Soggens weer afgehaal en in ‘n skottel gebêre tot die aand om weer uit gehang te word, todat dit lekker droog is.

Wat ‘n skok was dit! Geen mamma-pop nie - maar die ergste was die besef dat daar nie ‘n Kersvader is nie. Dis maar net ‘n mens se ouers wat die geskenkies geheimsinnig in die sloop of kous kom sit. Ek weet nou nog nie watter die ergste was nie. Die teleurstelling oor die pop of die wrede ontnugtering dat daar nie ‘n Vader Krismis is nie.

Kinders, wees tevrede met wat Kersvader vir julle bring, al is dit net ‘n stuk biltong. Dis tog ook baie leker en beter as glad niks!

No comments: