Friday, December 14, 2007

If you can dream it, you can do it

- Denise Ohlson -

Die woorde van Lance Amstrong - toe hy die Tour de France wen nadat hy kanker oorwin het - het Lulu Jooste se lewensmotto geword: “If you can dream it, you can do it”.

Lulu het sewe jaar gelede begin fietsry nadat sy nie meer haar geliefde perd by die Prince Albert Skouterrein kon aanhou nie. Haar eerste wedren was op Calitzdorp - en daarna was daar net een pad voor haar oop: wenpaal toe.

Vol drome en deursettingsvermoë leef sy Armstrong se woorde uit. Sy word vyf keer gekroon as die Suid-Kaap Kampioen, sy wen die Argus vir dogters onder 16, en in die Burger/Sanlam Wedren is sy oor 72 km die eerste dame oor die wenstreep.

Hierdie jaar presteer sy weer uitmuntend: Onse Lulu is nou die WP se Junior Dames Padkampioen!

Vir 2008 het sy twee doelwitte in haar visier: Om te kwalifiseer vir die Wêreld Junior Kampioenskappe en om weer die Argus te wen.
Haar mentor is Anriëtte Schoeman, sesmalige SA Kampioenskapswenner. Ook Anriëtte is vir Lulu ‘n aansporing – sy weet elke harde oefentree teen Prince Albert se onsimpatieke suidewind is die moeite werd. Haar dag begin om 5h30 wanneer sy òf gaan draf òf gim- en strek-oefeninge doen. Ná skool is dit twee tot drie ure op die fiets. Naweke is dit wedrenne of nog baie lang ure op die pad om diep fiks, sterker en vinniger te raak.

Haar grootste “fan” is ongetwyfeld haar broer Chris, wat haar getrou inwag by die wenpaal of, in die geval van ‘n papwiel, alles in ‘n kwessie van twee minute kan “fix”.

Lulu sê dankie aan al haar mededingers, haar oefenmaat (pa Chris), haar ma Louise wat met al die “regte” kosse moet regstaan, haar oupa Christie en ouma Pikkie wat altyd daar is met ‘n bydrae, onderwysers wat verstaan waaroor dit gaan en almal wat so baie geduld op die pad het. En laastens dank sy die Hemelse Vader wat haar elke naweek weer terugbring sonder valle en ongelukke.

‘n Belowende sporttoekoms wag op hierdie 17-jarige dogter van Prince Albert. Haar prestasies tot dusver is indrukwekkend.

Die hele gemeenskap staan agter haar en wens haar geluk en vele wenlinte toe.

No comments: