Friday, December 14, 2007

Opvoedkundige toer na Kaapstad

- Johndry Miltjiet -

Vir ons as graad 9-leerders was dit ‘n groot voorreg om die Moederstad te besoek. Ons het onvergeetlike tye gehad wat ons vir die res van ons lewe sal koester.

Ons het vanaf die 15de tot 19de Oktober ‘n opvoedkundige toer in Kaapstad gehad. Ons was die heel jaar opgewonde en kon nie wag dat die vertrekdatum moet aanbreek nie. Toe dit uiteindelik aanbreek, was ons so ‘n bietjie senuweeagtig gewees. Toe die bus wegtrek, kon jy sien dat daar baie spanning was. Ons het begin om te sing, te dans en het geluide gemaak, want ons was net te opgewonde!

In die stad kon jy die glimlagte op die kinders se gesigte sien, dit het gelyk asof hulle in ‘n ander wêreld ingaan. Ons het in Simonsstad geslaap by “Simons Town Fresh Air Camp”. Dit is nou een van die pragtigste plekke in Suid-Afrika. Dit het ‘n asemrowende uitsig oor die see. Ons het die kampplek verken, en daarna was ons na die kamers waar ons sou slaap vir die week. Ons was moeg na ‘n dag vol avonture en het sommer lekker geslaap.

Ons kon onder geen omstandighede wag om op te staan nie. Die vars reuk van die see en groen gras was nou vir jou wonderlik. Toe ons die dag se program hoor was ons baie opgewonde. Ons was na die historiese Robben Eiland en dit was nou vir jou lekker. Ons was met ‘n boot na die eiland en daar het ons van al die geskiedenis gehoor wat op die eiland en sy omliggende waters gebeur het. Ons het ook Nelson Mandela se tronksel gesien. Ons het ‘n klomp geboue gesien uit toeka se tyd wat nou nog ‘n bestaan maak op die eiland.

Ons het ook die Kasteel, Peninsula Beverages (Coca Cola fabriek) en die Vloot besoek. By die Vloot het hulle ons met ‘n “tug boat” op die see gevat. Ons was regtig nou bederf gewees. Ons was ook by die Parade, Canal Walk en N1 City Centre. Ons het ook die MTN Science Centre besoek en het wonderlike tegnologiese uitvindings gesien.

Ons wil net alle ouers, inwoners en onderwysers bedank vir hulle harde werk om ons so ‘n wonderlike geleentheid te gee. Ons sal dit nooit vergeet nie. Ons het regtigwaar lekker tye gehad en was dit nie vir hulle nie dan sou ons nie die toer kon meemaak nie.

So, baie baie dankie vir julle lojaliteit en ondersteuning teenoor ons; die Here sal julle seën. ‘n Spesiale dank aan mnr Hennie W du Plessis wat aan ons ‘n skaap geskenk het. Om by die see te braai was wonderlik en dankie vir almal by Prince Albert Primêr.

No comments: