Friday, December 14, 2007

Bodo laat rande inrol vir skole

- Denise Ohlson -

Bodo Toelstede is al sewe jaar lank hart en siel betrokke by Wildekanisland Kleuterskool en Hoërskool Zwartberg, en die afgelope drie jaar by Babbelbergies, die junior kleuterskool.

Toe hy in 2000 genader is om as beskermheer van Wildekanisland op te tree, het hy die amp met trots aanvaar – sonder om te besef hoeveel werk nog daarmee gepaard sou gaan, want gou was dit vir hom duidelik dat daar baie ouers is wat nie die Kleuterskool kan bekostig nie. Hy besluit om vriende in Italië en Duitsland te nader om elk ‘n kind te borg. Die positiewe reaksie is oorweldigend en sedertdien stel Bodo kwartaalliks vir elke skenker ‘n verslag op van sy of haar kind en stuur ‘n foto daarmee saam.

Sy persoonlike betrokkenheid by die skool brei verder uit toe hy saam met die kinders begin sing. Met sy musiektoerusting is hy altyd bereid om te help met skoolfunksies en hy sê hy werk graag saam met die kleuterskooljuffrouens om te help met die aankoop van boeke, sielkundige ondersteuning en ekstra toetse.

Elke jaar kom hulle bymekaar om die aantal inskrywings te bespreek en te besluit hoeveel Bodo moet bydra om die klasgetal van 25 vol te maak.
Die afgelope sewe jaar was sy totale bydrae R127,717 – wat insluit R25,000 vir Babbelbergies.

Bodo is ook die beskermheer van Hoërskool Zwartberg. Met die Oktoberfeeste wat hy elke jaar aanbied, het hy al R82,768 ingesamel – plus donasies van R165,000 wat direk ingekom het na aanleiding van die Oktoberfeeste. Hy en sy Kieliebeentjies Orkes het al landwyd en ook in Namibië gaan toer – en dit is harde werk! Tussendeur het hy fondse beding met Nestlé, en hy het al twee leerders per jaar geborg gekry.

Die indrukwekkende somtotaal van al sy onvermoeide pogings om geld bymekaar te raap vir die drie skole, staan by te perse gaan op R445,663 – amper ‘n halfmiljoen rand! Dit wys net wat een man kan vermag. Maar dit vra ysere toewyding en ware selfopoffering. Iets wat min mense mee kan volhou. Maar Bodo hou vol en werk al vier jaar met entoesiasme en energie aan die reëlings vir die 2008 Oktoberfees, wanneer hy ‘n volle koperblaasorkes Prince Albert toe bring.

Omkring nou al Saterdag 18 Oktober 2008 op jou kalender. Die Blaskapelle Hemslingen se optrede gaan ’n eenmalige gebeurtenis wees wat nie net heerlike vermaak gaan bied nie, maar ook die skoolfondse ‘n reuse inspuiting gaan gee.

Viva, Bodo!

No comments: