Friday, December 14, 2007

Sesde Oktoberfees ‘n reuse sukses

- Stefné Theunissen -

Die aand van 27 Oktober was ‘n heerlike someraand hier aan die voet van ons geliefde Swartberge en dit was tyd om weer met groot oorgawe fees te vier.

Vir Prince Albert se Sesde Oktoberfees is die saal van Hoërskool Zwartberg pragtig versier, vrolike musiek het die gaste sommer met die intrapslag in die regte stemming gehad en tot laataand gesorg dat die dansbaan deeglik benut word. Van die gaste (en al die dansers op die verhoog) was uitgedos in Dirndl-rokke – al die pad van Duitsland af. Te pragtig!

’n Verskeidenheid Duitse en Suid-Afrikaanse kos is bedien en plaaslike wyn en bier (natuurlik!) was te koop. Daar was sitplek vir 180 mense en in ‘n staduim was die saal oorvol – daar is 211 koskaartjies en 254 toegangskaartjies verkoop. Indrukwekkende pryse is gewen in die tombolatrekking – en daarna het meisies in oulike wit stewels en kort rokkies treffers gesing. Die wins vir die aand was R16, 546 - wat weer aan Hoërskool Zwartberg gaan. Die ses feeste tesame het nou al R82, 768 tot die skoolkoffers bygedra.

Volgende jaar vind die Sewende Oktoberfees plaas. ’n Duitse Blaasorkes kom dan spesiaal van Duitsland af vir die fees. Die winsmikpunt is R18, 000 – sodat die groottotaal van R100, 000 as bydrae tot Hoërskool Zwartberg se fondse bereik kan word. Ondersteun dus gerus hierdie grootse poging van Bodo en Gudrun Toelstede. Dit gaan ’n reuse organisasie wees!

Bodo en Gudrun is al die jare die onbaatsugtige werkers agter die skerms vir al hierdie geleenthede. Hul toewyding aan Prince Albert en al sy mense, hul harde werk, deeglike beplanning en uitstekende organisasie om sulke mooi geleenthede vir Prince Albert daar te stel, gaan nie ongesiens verby nie. Gaste van ver en naby het die aand baie geniet en hulle groot lof toegeswaai. En belowe hulle is volgende jaar weer hier!

No comments: