Friday, December 14, 2007

Kamp te Welgelegen

- D F van der Ross -

Ons graad 3’s (Prince Albert Primêr) het vanaf 5 – 7 November op mnr André Gouws se plaas te Welgelegen gekamp. Dit was die beste ding wat nog ooit met ons gebeur het. Om so naby aan die natuur, die skeppingswerk van God, te kom, was ‘n enorme belewenis. Die bokkies wat vrylik teen die koppe uithardloop, die muise, die slange, die spinnekoppe, die voëls, die witkruisarende en die hadidas het ons so nou en dan laat verstaan dat ons nou op hulle terrein is. Tog is hulle almal vreedsame diere as jy hulle net wil erken en verstaan.

André Gouws het aan ons gedemonstreer hoedat mens en dier in vrede kan saamleef toe hy slange (eiervreters) een vir een uit sy hemp se sak gehaal het en hulle rustig oor sy hande en arms laat seil het. Dan was daar oom Jaftha Pietersen wat ons in die veld geneem het en verskeie kruie aan ons bekend gestel het. Ons was verstom oor sy kennis en hoedat jy die kruie vir verskeie kwale kan gebruik.

Ons het die lieflikste twee tannies ontmoet wat elke dag glimlag. Marie en Louise, julle twee se manier van gee sal ons altyd bybly. Julle het die hardste gewerk en tog was julle altyd vrolik agter die kospotte! Baie dankie daarvoor. Dit was wonderlik om te ontdek dat ‘n mens in die eenvoudigste manier van lewe die rykste mens kan wees. Die Here seën julle almal vir wat julle probeer om vir die kinders te doen. Julle is ‘n wenspan!

No comments: