Showing posts with label Prince Albert Primer. Show all posts
Showing posts with label Prince Albert Primer. Show all posts

Friday, December 14, 2007

Kamp te Welgelegen

- D F van der Ross -

Ons graad 3’s (Prince Albert Primêr) het vanaf 5 – 7 November op mnr André Gouws se plaas te Welgelegen gekamp. Dit was die beste ding wat nog ooit met ons gebeur het. Om so naby aan die natuur, die skeppingswerk van God, te kom, was ‘n enorme belewenis. Die bokkies wat vrylik teen die koppe uithardloop, die muise, die slange, die spinnekoppe, die voëls, die witkruisarende en die hadidas het ons so nou en dan laat verstaan dat ons nou op hulle terrein is. Tog is hulle almal vreedsame diere as jy hulle net wil erken en verstaan.

André Gouws het aan ons gedemonstreer hoedat mens en dier in vrede kan saamleef toe hy slange (eiervreters) een vir een uit sy hemp se sak gehaal het en hulle rustig oor sy hande en arms laat seil het. Dan was daar oom Jaftha Pietersen wat ons in die veld geneem het en verskeie kruie aan ons bekend gestel het. Ons was verstom oor sy kennis en hoedat jy die kruie vir verskeie kwale kan gebruik.

Ons het die lieflikste twee tannies ontmoet wat elke dag glimlag. Marie en Louise, julle twee se manier van gee sal ons altyd bybly. Julle het die hardste gewerk en tog was julle altyd vrolik agter die kospotte! Baie dankie daarvoor. Dit was wonderlik om te ontdek dat ‘n mens in die eenvoudigste manier van lewe die rykste mens kan wees. Die Here seën julle almal vir wat julle probeer om vir die kinders te doen. Julle is ‘n wenspan!

Opvoedkundige toer na Kaapstad

- Johndry Miltjiet -

Vir ons as graad 9-leerders was dit ‘n groot voorreg om die Moederstad te besoek. Ons het onvergeetlike tye gehad wat ons vir die res van ons lewe sal koester.

Ons het vanaf die 15de tot 19de Oktober ‘n opvoedkundige toer in Kaapstad gehad. Ons was die heel jaar opgewonde en kon nie wag dat die vertrekdatum moet aanbreek nie. Toe dit uiteindelik aanbreek, was ons so ‘n bietjie senuweeagtig gewees. Toe die bus wegtrek, kon jy sien dat daar baie spanning was. Ons het begin om te sing, te dans en het geluide gemaak, want ons was net te opgewonde!

In die stad kon jy die glimlagte op die kinders se gesigte sien, dit het gelyk asof hulle in ‘n ander wêreld ingaan. Ons het in Simonsstad geslaap by “Simons Town Fresh Air Camp”. Dit is nou een van die pragtigste plekke in Suid-Afrika. Dit het ‘n asemrowende uitsig oor die see. Ons het die kampplek verken, en daarna was ons na die kamers waar ons sou slaap vir die week. Ons was moeg na ‘n dag vol avonture en het sommer lekker geslaap.

Ons kon onder geen omstandighede wag om op te staan nie. Die vars reuk van die see en groen gras was nou vir jou wonderlik. Toe ons die dag se program hoor was ons baie opgewonde. Ons was na die historiese Robben Eiland en dit was nou vir jou lekker. Ons was met ‘n boot na die eiland en daar het ons van al die geskiedenis gehoor wat op die eiland en sy omliggende waters gebeur het. Ons het ook Nelson Mandela se tronksel gesien. Ons het ‘n klomp geboue gesien uit toeka se tyd wat nou nog ‘n bestaan maak op die eiland.

Ons het ook die Kasteel, Peninsula Beverages (Coca Cola fabriek) en die Vloot besoek. By die Vloot het hulle ons met ‘n “tug boat” op die see gevat. Ons was regtig nou bederf gewees. Ons was ook by die Parade, Canal Walk en N1 City Centre. Ons het ook die MTN Science Centre besoek en het wonderlike tegnologiese uitvindings gesien.

Ons wil net alle ouers, inwoners en onderwysers bedank vir hulle harde werk om ons so ‘n wonderlike geleentheid te gee. Ons sal dit nooit vergeet nie. Ons het regtigwaar lekker tye gehad en was dit nie vir hulle nie dan sou ons nie die toer kon meemaak nie.

So, baie baie dankie vir julle lojaliteit en ondersteuning teenoor ons; die Here sal julle seën. ‘n Spesiale dank aan mnr Hennie W du Plessis wat aan ons ‘n skaap geskenk het. Om by die see te braai was wonderlik en dankie vir almal by Prince Albert Primêr.

Sunday, November 11, 2007

PA Primêr se netbalspelers seëvier

- Berenice Ewerts -

Vanjaar het ons netbalspanne gewys waartoe hul in staat is. Die verskillende spanne en ouderdomsgroepe het 90% van die spanne waarteen hul gespeel het gewen. Die O/13 dogters het nie een wedstryd vir die jaar verloor nie!! Die O/11 en O/12 spanne het soms gelykop gespeel. Uit hierdie spanne het ons twee SWD spelers gewerf: Semarin Goliath en Robertha Fillies.

Twee van die spelers, Bertha Ewerts en Myrtle Deelman, het selfs SWD behaal in onderskeidelik spiesgooi en hoogspring. Hierdie dogters skrik regtig vir niks nie! Geluk aan julle almal vir jul mooi spel wat julle gelewer het.

Friday, August 31, 2007

Prince Albert Primêr se Skaakspan Skitter

- Neville Claassen -

Prince Albert Primêr se skaak-spelers het weer eens bewys dat hulle ‘n groep is om mee rekening te hou. Op 4 Augustus 2007 het twee spanne (ses spelers per span) aan die SWDUSSA TOPSKOLE Toernooi deel-geneem.

Die Dogterspan het tweede geëindig en silwer medaljes ontvang. Ons het ook ‘n gemengde groepie by die Hoërskool afdeling ingeskryf en alhoewel hulle teen gesoute o/19 spelers van sewe Hoërskole gespeel het, het hulle hul vasgestaan en vierde gekom.

Twee maande gelede het daar 12 spelers deelgeneem aan ‘n Wes-Kaap Toernooi in Paarl en is Nadine Kroon in die 0/17 opgeneem om aan ‘n Nasionale “All Ages” Toernooi in Durban te gaan deelneem.

As u hierdie spelers in aksie wil sien, kan u gerus ‘n draai kom maak op 1 September 2007 by die VGK Saal of die saal van Hoërskool Zwartberg, wanneer die 3de SWDUSSA-proewe hier sal plaasvind.