Friday, December 14, 2007

Wildekanisland en Babbelbergies hou Konsert

- Denise Ohlson -

Berlinda Nel en Marina Nel is nie familie nie, maar hulle is soos bloedsusters as dit kom by die opvoeding van peuters en kleuters. Hierdie twee onderwyseresse het ouers, oumas en oupas en elke belangstellende verstom met hul jaareindfunksie.
Marina se 17 Babbelbergies (2 tot 4 jaar) en Berlinda se 28 Wildekanislanders (4 tot 6 jaar) het gedans en gesing en hulle net te voortreflik gedra.

Hompie-Kedompie, Padda en mejuffrou Muis, Vuurvliegie en al wat ‘n maatjie is, het elke oomblik in die kollig uitgekoop en hul hartjies uitgespeel vir ‘n baie waarderende gehoor.

Daar was eetgoed ewe voortreflik en keurig voorgesit en sertifikate is uitgedeel aan die presteerders in die Wiskunde Olimpiade – met Simon Joubert die trotse Eenhonderdpersenter! Tydens die indrukwekkende “gradeplegtigheid” het elke deelnemer helder en duidelik gesê wie hulle is en wat hulle eendag wil word. Elf Babbelbergies is bevorder tot Wildekanislanders en 16 Wildekanislanders gaan volgende jaar Graad 1 toe!

Berlinda het Bodo Toelstede, beskermheer van Wildekanisland Kleuterskool, bedank vir sy omvattende en entoesiastiese bydrae en gesê dat die skool sonder sy finansiële ondersteuning nie staande sou kon bly nie omdat ouers net nie in staat sal wees om meer skoolfondse te betaal nie.

Dat voorskoolse kinders in Prince Abert onderrig en leiding van die hoogste standard kry, is te wyte aan ‘n spanpoging waarop die dorp net trots kan wees.

No comments: