Showing posts with label Wildekanisland. Show all posts
Showing posts with label Wildekanisland. Show all posts

Saturday, February 28, 2009

Wildekanisland maak hamburgers dat die opwekker so dreun

- Ellen Joubert -

Wildekanisland Kleuterskool se altyd gewilde Valentyns hamburger aand het weer eens gewys dat die vindingrykheid van ouers van klein kindertjies geen perke ken nie – selfs nie eens wanneer gekonfronteer met ware Vrydag die 13de moleste nie.

Die kiosk by Hoërkool Zwartberg was ‘n miernes van aktiwiteite om seker te maak dat die kleuterskool se lojale ondersteuners teen halfses die aand van Vrydag 13 Februarie hulle heerlike hamburgers, skyfies en koeldrank kon kom ontvang.

Kort voor die uur van rekenskap trek die hemelsluise oop en seën ons met ‘n heerlike, harde en baie welkome reënbui wat ook glad nie te haastig was om uit te reën nie. Die braaispan was heel tevrede om nat te reën en die een beskikbare sambreel oor die hamburger vleisies te hou, maar toe die krag uitskop, was dit potensieel die einde van die ‘chips’ in die ‘hamburger, chips en koeldrank’ trio.

Gelukkig kan dinge in ‘n klein dorp baie vinnig gebeur as dit moet en voor die olie nog kans gehad het om behoorlik koud te word staan ‘n reuse krag-opwekker agter die kiosk en brul en die produksielyn van ouers sit die heerlikste hamburger en chip boksies aanmekaar vir die geduldige tou wagtendes.

Dit was aanmoedigend om te sien dat die ondersteuners hulle ook nie deur reën en af krag laat demp het nie en vrolik genoeg gestem is deur die okkasie om nog die bekommerde Wildekanis-ouers gerus te stel.

Toe die reën ophou, het almal die lieflike middag geniet. Daar was selfs ‘n stoel of twee en ‘n bottel wyn te sien op die gras voor die pawiljoen.

Wildekanisland het nou die Valentyns hamburger aand vir die vierde agtereenvolgende jaar aangebied en dit is besig om ‘n lekker instelling te word. Dit is ‘n belangrike fondsinsameling vir die skool en die skool waardeer die dorp se ondersteuning.

Sunday, November 30, 2008

Wildekanisland en Miernes se jaarlikse konsert

- Anneke van Eck -

En was dit nie ‘n gesig om te sien nie! Al die plaasdiere wat deur die gehoor aangestap kom en hul gaan tuismaak op die verhoog - op Oupa se plaas. Daar was koeie, skapies, eendjies, Oupa en Ouma kompleet met hul kleinkinders. Van ‘n hansvarkie, swartskaap, hoenders en kuikens, gansies, ‘n kolliehond, ‘n meerkat tot by die werfskoonmakertjies en pap-etertjies.

Oupa se plaas het omtrent gewemel van die bedrywighede. Liedjies is gesing en elke faset van die plaas het behoorlike aandag gekry. Tot die koeie kon hul spene vir ‘n slag lekker rondswaai!

Die hoogtepunt van die Graad R-klas se aand was dat 16 van hulle graad “gevang” het sodat hulle volgende jaar na Graad 1 bevorder kan word. En Miernes het nie agtergebly nie! Drie van die bedrywige miertjies het graad gevang en skuif volgende jaar oor na Wildekanisland.

Die saal was propvol van al die familie en belangstellendes en daar was geen plek vir ‘n muis oor nie. Baie dankie aan almal wat ons ondersteun het en ook al die werkers wat van die aand so ‘n groot sukses gemaak het. ‘n Spesiale dank aan juffroue Berlinda en Marina wat al die maatjies moes afrig om so ‘n suksesvolle aand op die planke te bring !

Tobie Gous is tans besig om ‘n DVD te maak van die aand se konsert en dit kan van hom bestel word. Al die 3 tot 4-jariges wat nog belangstel om volgende jaar na Miernes Speelgroepie te kom, kan by juf. Marina Nel aansoek doen.

Friday, December 14, 2007

Wildekanisland en Babbelbergies hou Konsert

- Denise Ohlson -

Berlinda Nel en Marina Nel is nie familie nie, maar hulle is soos bloedsusters as dit kom by die opvoeding van peuters en kleuters. Hierdie twee onderwyseresse het ouers, oumas en oupas en elke belangstellende verstom met hul jaareindfunksie.
Marina se 17 Babbelbergies (2 tot 4 jaar) en Berlinda se 28 Wildekanislanders (4 tot 6 jaar) het gedans en gesing en hulle net te voortreflik gedra.

Hompie-Kedompie, Padda en mejuffrou Muis, Vuurvliegie en al wat ‘n maatjie is, het elke oomblik in die kollig uitgekoop en hul hartjies uitgespeel vir ‘n baie waarderende gehoor.

Daar was eetgoed ewe voortreflik en keurig voorgesit en sertifikate is uitgedeel aan die presteerders in die Wiskunde Olimpiade – met Simon Joubert die trotse Eenhonderdpersenter! Tydens die indrukwekkende “gradeplegtigheid” het elke deelnemer helder en duidelik gesê wie hulle is en wat hulle eendag wil word. Elf Babbelbergies is bevorder tot Wildekanislanders en 16 Wildekanislanders gaan volgende jaar Graad 1 toe!

Berlinda het Bodo Toelstede, beskermheer van Wildekanisland Kleuterskool, bedank vir sy omvattende en entoesiastiese bydrae en gesê dat die skool sonder sy finansiële ondersteuning nie staande sou kon bly nie omdat ouers net nie in staat sal wees om meer skoolfondse te betaal nie.

Dat voorskoolse kinders in Prince Abert onderrig en leiding van die hoogste standard kry, is te wyte aan ‘n spanpoging waarop die dorp net trots kan wees.