Saturday, February 28, 2009

Wildekanisland maak hamburgers dat die opwekker so dreun

- Ellen Joubert -

Wildekanisland Kleuterskool se altyd gewilde Valentyns hamburger aand het weer eens gewys dat die vindingrykheid van ouers van klein kindertjies geen perke ken nie – selfs nie eens wanneer gekonfronteer met ware Vrydag die 13de moleste nie.

Die kiosk by Hoërkool Zwartberg was ‘n miernes van aktiwiteite om seker te maak dat die kleuterskool se lojale ondersteuners teen halfses die aand van Vrydag 13 Februarie hulle heerlike hamburgers, skyfies en koeldrank kon kom ontvang.

Kort voor die uur van rekenskap trek die hemelsluise oop en seën ons met ‘n heerlike, harde en baie welkome reënbui wat ook glad nie te haastig was om uit te reën nie. Die braaispan was heel tevrede om nat te reën en die een beskikbare sambreel oor die hamburger vleisies te hou, maar toe die krag uitskop, was dit potensieel die einde van die ‘chips’ in die ‘hamburger, chips en koeldrank’ trio.

Gelukkig kan dinge in ‘n klein dorp baie vinnig gebeur as dit moet en voor die olie nog kans gehad het om behoorlik koud te word staan ‘n reuse krag-opwekker agter die kiosk en brul en die produksielyn van ouers sit die heerlikste hamburger en chip boksies aanmekaar vir die geduldige tou wagtendes.

Dit was aanmoedigend om te sien dat die ondersteuners hulle ook nie deur reën en af krag laat demp het nie en vrolik genoeg gestem is deur die okkasie om nog die bekommerde Wildekanis-ouers gerus te stel.

Toe die reën ophou, het almal die lieflike middag geniet. Daar was selfs ‘n stoel of twee en ‘n bottel wyn te sien op die gras voor die pawiljoen.

Wildekanisland het nou die Valentyns hamburger aand vir die vierde agtereenvolgende jaar aangebied en dit is besig om ‘n lekker instelling te word. Dit is ‘n belangrike fondsinsameling vir die skool en die skool waardeer die dorp se ondersteuning.

No comments: