Saturday, February 28, 2009

Prince Albert Kieliebeentjies toer in Duitsland

- Bodo Toelstede -

Ja, dit is inderdaad so! Op 30 Junie 2009 vertrek one eie Kieliebeentjies vanaf George om hulle stemme deur Duitsland te laat hoor. Hulle eerste ervaring van Duitse gasvryheid sal in Koblenz op 3 Julie by die "Altstadtfest" plaasvind. Daarna reis hulle per trein langs die Rheinrivier na Hemslingen, waar hulle 'n groot fees saam met die Hemslinger Blaasorkes sal begin.

Die Kieliebeentjies is in 2001 deur Bodo Toelstede in die lewe geroep en het al by die KKNK en elke jaar by die Prince Albert Oktoberfest musiek gemaak. Hulle het ook al na George, Paarl, Piketberg, Kaapstad en Johannesburg getoer.

Die Duitse toer word deur die Hemslinger Blaasorkes, vriende van die Kieliebeentjies, inkomste van optredes en hopelik ook deur die Kaapse Departement van Kultuursake gefinan-sier.

Die Kieliebeentjies se eerste optrede sal in Hemslingen op Sondag, 5 Julie, tydens ‘n groot saamtrek van verskillende blaas-orkeste geskied. Die Prince Alberters sal saam met die Hemslinger Blaasorkes, die lied "Rooi is die Rosies" sing, wat hulle ook vir Kobus Snyman, Hoërskool Zwartberg se voormalige skoolhoof, by sy afskeidspartytjie gesing het.

Tydens die optrede by die 7de Duitse Oktoberfest in Prince Albert se Landbouskousaal, het die lede van die Hemslinger Blaasorkes gehoor hoe plaaslike musikante gewilde Afrikaanse liedjies sing. Hulle was só opgewonde dat hulle die Prince Albert Kieliebeentjies na Duitsland genooi het sodat hulle landgenote ook die vrolike musiek kan geniet. Optredes in verskeie ander dorpe word ook beplan voor hulle terugkoms op13 Julie.

Ons wens die Prince Albert Kielie-beentjies 'n voorspoedige reis en alles van die beste toe. Indien daar belangstelling is om saam met die Kieliebeentjies te toer, kan Bodo behulpsaam wees by (023) 5411 330 .

No comments: