Saturday, February 28, 2009

‘n Troue om die nuwe jaar te begroet

- Anneke van Eck -

Op 31 Desember 2008 is Samie Luttig, oftewel Boeta, en Bianca Marais op ‘n sprokiesdag en in egte Karoo-styl in die huwelik bevestig. Bianca het soos ‘n feëprinses gelyk in haar wit rok en die bruidspaar is gekarwei in die eerste motor wat desjare in Prince Albert se strate gery het - kompleet met registrasienommer CCA 1!

Gaste is bederf op die skousaal se stoep wat sprokiesmooi versier is met pragtige blomme en honderde liggies. Daar is spesiaal ‘n dansbaan op die grasperk gebou sodat almal die nuwe jaar kon inskoffel. En is daar nie behoorlik geskoffel nie – al die seer voete het die volgende oggend getuig daarvan!

Ons wens die splinternuwe Luttig-egpaar alle voorspoed toe met hul lewe saam daar op Drie Riviere. Mag julle ‘n lang en gelukkige huwelik hê gevul met voorspoed wat verdubbel en teëspoed wat halveer. Baie geluk!

No comments: