Saturday, February 28, 2009

‘n Nuwe Bus, ‘n Nuwe Era

- Sammy Delport -

Prince Albert Primêr het op Vrydag, 23 Januarie, op luisterryke wyse hulle nuwe skoolbus in ontvangs geneem. Die opgewondenheid onder opvoeders, ouers en veral die leerders het geen perke geken nie. Dit was voorwaar ‘n dag waar ‘n langverwagte droom waar geword het.

Die skool moes in die verlede hul sportspanne ten duurste met minibusse na Oudtshoorn of elders na kompetisies vervoer. Die koms van die bus het al daardie probleme opgelos.

Verskeie hooggeplaastes het by die geleentheid toesprake gelewer. Die burgemeester, Raadslid M Benjamin, Dr H Jacobs, voormalige kring-bestuurder van Prince Albert Primêr en mnr L Duimpies, huidige kring-bestuurder, het in hul toesprake die skool gelukgewens met hul besondere prestasie. Pragtige items deur elke fase in die skool is tussen die toesprake gelewer. Danse en gedigte deur leerders opgevoer het hul opgewondenheid gedemonstreer. Dr Jacobs het tot groot vermaak van die skare vertel hoe hy as leerder per skaaplorrie na sport-byeen-komste moes reis. Baie opvoerders en ouers kan identifiseer met daardie “goeie ou tye.”

Na al die toesprake het die bus onder begeleiding van polisievoertuie met loeiende sirenes by die skool aangekom. Almal was baie opgewonde.

Mnr Styen, ons hoof, het die sleutels ontvang by ‘n verteenwoordiger van Nissan, die lint geknip en die deur van ons pragtige bus oopgesluit.

Prince Albert kan met reg trots wees op die hoof, personeel en beheerliggaam wat hierdie groot gebeurtenis moontlik gemaak het.

‘N BUS GEWIS

- David-Leigh Willemse, Graad 9 -

We had a dream ...

Ja, voorwaar is dit ‘n goeie dag
Ons almal is moeg gewag
Vandag kan ons nie ophou lag
Die bus is hier, ons slaan ‘n slag.

Vir jare moes ons altyd sukkel
Vervoer het soms die skool laat trippel
Dis bedel hier en bedel daar,
Ons was te moeg, die skool kry swaar.

Ons het bly glo, geswoeg, gesweet, gewerk
Vis gebraai en ‘n potjie bewerk,
Maar steeds was ons droom nog glad nie beperk,
Ons kan dit dalk gou maak werk.

Uiteindelik is ons droom “bewaar”
Ons bus is hier! Gewag is klaar.
Ons almal gaan die vrugte pluk,
Verlos van bedel en vra se juk!

No comments: