Saturday, February 28, 2009

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

Die openingsverrassing van die Internasionale Jaar van Astronomie 2009, naamlik die gedeel-telike sonsverduistering op die 26ste Januarie, het vir groot opgewon-denheid gesorg by die leerders van Hoërskool Zwartberg asook vir die heel kleintjies by Wildekanisland. Vir die meeste kinders was dit die eerste keer dat hulle die Son (ons naaste ster) en die Maan so naby mekaar gesien het. Kommentare van die kinders soos : "Dit lyk soos `n groot piesang" , "Watter een is die Maan ?", "Die helder een!" het tot vermaaklike oomblikke gelei. Dit was vir ons heerlik om die gebeurtenis met kinders en volwassenes te deel en Prince Alberters was gelukkiger as sterre-entoesiaste in Gauteng of die Tuinroete waar dit dié oggend bewolk was.

Nou hoop ons net vir goeie weer tydens die gedeeltelike maansverduistering aan die einde van die jaar as afsluiting van die Internasionale Jaar van Sterrekunde. Tussenin sal daar egter nog baie op-windende gebeurtenisse wees, soos die Stigting van die Sterrevriendekring van Prince Albert/Star Friends op die 21st Maart ,'n dag na die dag-en-nag-ewening, om 18h00 in die Swartberg Hotel. Belangstellendes kan ons nader vir besonderhede by 072-732-2950.

Dan is daar nog die komeet Lulin wat besig is om blote-oog-sigbaarheid te bereik en aan die einde van Februarie/begin Maart naby Regulus in Leo te sien sal wees. `n Ander rede hoekom dit nou belangrik word om die herfskonstellasie van die Leeu te kan identifiseer, is omdat dit die planeet Saturnus huisves naby die stertgedeelte van die leeu. Saturnus beweeg in die rigting van Regulus tot Junie en dan weer terug met groter spoed in die rigting van Virgo. Op 8 Maart is Saturnus in opposisie tot die Son (d.w.s. “VolSaturnus”) en naaste aan die Aarde (nl.1256 mil.km of 8.39 AE ) vir hierdie jaar. Sy weerkaatste lig bereik ons na 70 minute reistyd nadat die sonlig 78 minute lank op pad was na Saturnus. Die ringe is nou van die kant af te sien soos dit laas in 1995 was en dit is die rede hoekom Saturnus nie so helder (mag. 0.5) is as wanneer sy ringe oop is (mag. - 0.5) nie.

Venus, die helder “aandster” sal tot stilstand kom op die 5de Maart en daarna weer afbeweeg Son toe om weer die “oggendster” te word.

Jupiter (mag. -2.0) is nog `n oggend-voorwerp, maar word al helderder totdat hy in Junie weer `n mooi voorwerp vir besigtiging die hele nag lank word.

Volmaan is op die 11de Maart en Nuwe Maan op die 26ste.

Na die Herfs Dag-Nag-Ewening op die 20ste Maart word die nagte nou langer as die dae - jippie vir sterrekyk !

NASA sal vir ons in die Internasionale Jaar van Astronomie ook met `n paar boeiende ruimtereise op die punte van ons stoele hou. In Mei word die Hubble-ruimteteleskoop (HST) wat in 91 minute om die Aarde wentel deur die pendeltuig Atlantis 570 km bo die aarde gevang om sy laaste en omvattende diens te ontvang. Voorsien van nuwe batterye, lense, giroskope ens. sal die HST dan nog vir `n lang tyd heelwat interessante inligting na die aarde kan terugstuur sodat ons uiteindelik die ruimte om ons beter kan verstaan. Die ruimteteleskoop CoRoT, wat ontwerp is om eksoplanete op te spoor, het juis onlangs `n planeet ontdek wat die naaste met die Aarde vergelyk kan word deurdat dit minder as twee maal die Aarde se grootte is.

Eers in 2013 sal die nuwe ruimte-teleskoop James Webb (JWST), met `n spieëldeursnee van 6.5 m op `n stasionêre punt 1.5 mil.km vanaf die Aarde geplaas word. Dit is meer as 3x so ver as wat die Maan van die Aarde is.

Hou die sterre in u oë !

No comments: