Saturday, February 28, 2009

Museumnuus: Waar kom die Name Vandaan?

In ‘n gang van die museum hang ‘n foto van Prince Albert se drie-en-dertig Piete. Geneem in 1947, die fotograaf is ‘n onderwyser, ene Johnnie Louw. Daar staan hulle almal op die trappe voor die kerk. Jong Piete en ou Piete; maar hoe op aarde onderskei ‘n mens tussen so ‘n klomp mense met dieselfde naam in ‘n klein gemeenskap? Byname natuurlik! Piet Orrel, Piet Maagseer, Piet Sekels, om ‘n paar te noem. Die byname spreek vanself en verwys na beroepe, gewoontes, geite en giere.

Ook in die dorp is daar menige sulke name. Daar is die BO-DORP en die ONDER-DORP. Volgens my inligting strek die BO-DORP vanaf die Alberts meule tot by Luttigstraat en die gedeelte noord van Luttigstraat is dan natuurlik die ONDER-DORP.

Wat van die naam PERE-DRAAI? Dit is die naam van die draai in Christina de Witstraat by die Weltevredepad- begraafplaas. Vroeër jare was daar ‘n boordjie peerbome. Vandag is daar net enkele van die ou bome oor.

FORD SE DRAAI? Die mooi Victoriaanse huis, genaamd Abend Rühe op die hoek langs De Bergkant Lodge is in ongeveer 1904 gebou deur die magistraat J Ford, en so is ook hy in die geskiedenis verewig.

Verder noord in Kerkstraat af is AKKEDISBULT. Hier is die inligting wat ek gekry het ‘n bietjie teenstrydig.

Eric Stockenström is in Prince Albert gebore en het later sy doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Later was hy ‘n lektor by sy Alma Mater. Hy skryf: Eeufees van die Gemeente Prins Albert 1842 – 1945 in boekvorm.

In ‘n verdere artikel wat gepubliseer is in Africana Aantekeninge en Nuus - Maart 1954, skryf hy oor die gewels van Prince Albert. “The one building in Group D is situated in a side street (Meiringstraat) on the so-called AKKEDISBULT and was built by my maternal grandfather, Carel Lotz. I was born in that unassuming old house and grew up there...”. Uit ander inligting blyk dit dat AKKEDISBULT gestrek het tot by Skapies-einde (ou slagpale) en dan ook verder suid. Dus ‘n hele gebied in die dorp.

Wes van die dorp, aan die voet van die koppies langs Klipstraat, was die ROOIKAMP. Ons Kleurlinggemeenskap het vroeër daar gewoon. Die naam het skynbaar ontstaan omdat die Engelse gedurende die Boere-oorlog hulle tentkamp in daardie omgewing gemaak het.

Terug na Kerkstraat, min of meer waar Kerkstraat Adderleystraat word, kry ons SONSKYN. Wat ‘n mooi naam! Frans Bothma se ouers het op SONSKYN geboer; destyds was dit ‘n veel groter stuk grond as vandag. Ongelukkig weet Frans nie hoe die naam sy ontstaan gekry het nie.

Uiteindelik kom ons aan die noordelike punt van die onder-dorp en kry ons KOELHOOGTE. Helena Marincowitz skryf: “Algemeen word aanvaar dat KOELHOOGTE sy naam te danke het aan die talle bloekombome waar perderuiters, perdekarre en dalk ook later motors op pad vanaf die Noorde, kom uitspan en diere koudlei het. Daar is seker ook saam koffie gedrink en nuus uitgeruil!”

Daar word ook vertel dat Koelhoogte ‘n gebied was in die onder-dorp wat Suid van Stockenstromstraat lê. Ander be-weer die naam is KOEËLHOOGTE en het ontstaan na een of ander skiet-voorval!

Wie weet? Kom vertel asseblief vir ons hier by die museum julle stories oor diè NAME.

Museumgroete
Lydia Barella

No comments: