Sunday, November 30, 2008

Wildekanisland en Miernes se jaarlikse konsert

- Anneke van Eck -

En was dit nie ‘n gesig om te sien nie! Al die plaasdiere wat deur die gehoor aangestap kom en hul gaan tuismaak op die verhoog - op Oupa se plaas. Daar was koeie, skapies, eendjies, Oupa en Ouma kompleet met hul kleinkinders. Van ‘n hansvarkie, swartskaap, hoenders en kuikens, gansies, ‘n kolliehond, ‘n meerkat tot by die werfskoonmakertjies en pap-etertjies.

Oupa se plaas het omtrent gewemel van die bedrywighede. Liedjies is gesing en elke faset van die plaas het behoorlike aandag gekry. Tot die koeie kon hul spene vir ‘n slag lekker rondswaai!

Die hoogtepunt van die Graad R-klas se aand was dat 16 van hulle graad “gevang” het sodat hulle volgende jaar na Graad 1 bevorder kan word. En Miernes het nie agtergebly nie! Drie van die bedrywige miertjies het graad gevang en skuif volgende jaar oor na Wildekanisland.

Die saal was propvol van al die familie en belangstellendes en daar was geen plek vir ‘n muis oor nie. Baie dankie aan almal wat ons ondersteun het en ook al die werkers wat van die aand so ‘n groot sukses gemaak het. ‘n Spesiale dank aan juffroue Berlinda en Marina wat al die maatjies moes afrig om so ‘n suksesvolle aand op die planke te bring !

Tobie Gous is tans besig om ‘n DVD te maak van die aand se konsert en dit kan van hom bestel word. Al die 3 tot 4-jariges wat nog belangstel om volgende jaar na Miernes Speelgroepie te kom, kan by juf. Marina Nel aansoek doen.

No comments: