Sunday, November 30, 2008

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehné -

Desembernagte is die mees ideale tyd om sterre te bewonder omdat dit nie so koud is nie, dit vakansie is en mens laat kan slaap die volgende oggend en natuurlik omdat ons in die somer van ons mooiste hemelsobjekte kan sien. ‘n Paar hiervan is die groot Orionnewel, (die geboorteplek van sterre), die rooi reuse Betelgeuse en Aldebaran, die oop sterrehopies Sewe Susters en M41 (in die "maag" van die Groot Hond ) en veral die Groot en Klein Magellaanse Wolke met hulle verrassings.

In Desember het ons in die suidelike halfrond natuurlik ook ons Somersonstilstand wat op die 21ste plaasvind en die begin van ons somer aandui. Op die 1ste Desember is dit reeds die moeite werd om net ná sonsonder na `n versameling van die vier dae oue Maan, Venus en Jupiter te gaan kyk, verkieslik vanaf Gordonkoppie. Die mooi groepering sal lyk soos `n "Glimlaggesiggie".
Mercurius word teen die einde van die maand weer as `n aandobjek sigbaar vir `n uur na sonsonder.

Saturnus kom net na middernag op en sal in 2009 helderder word maar sy ring sal vir ons net soos `n streep lyk omdat ons dit van die kant af bekyk.

Volmaan is op die 12de en Nuwemaan op die 27ste Desember, wat alles sal bydra tot
baie donkertyd in dié maand om ons sterreprag te kan geniet.

Op die 26ste Januarie 2009 sal almal in Suid-Afrika `n ringverduistering van die Son kan waarneem, wat iets is om na uit te sien.

Daar is egter `n ander rede hoekom die jaar 2009 baie belangrik sal wees vir sterrekunde, en dit is omdat 2009 as die Internasionale Jaar van Astronomie verklaar is deur die Internasionale Astronomiese Unie (IAU ) en die Verenigde Nasies, ter viering van die 400ste herdenking van Galileo Galilei se eerste observasie van die heelal deur `n teleskoop. Daar word beplan om wêreldwyd `n groter bewussyn te versprei oor sterrekunde se bydrae tot die gemeenskap en kultuur, om die jeug se belangstelling in die wetenskap te prikkel, om sterrekunde as `n globale vreedsame onderneming uit te beeld en om `n wetenskaplike uitkyk in die gemeenskap te kweek.

Astro Tours beplan om sommer aan die begin van 2009 `n Sterrevriendekring van Prince Albert te stig om gedurende die jaar `n paar byeenkomste, asook `n Jeugprojek aan te bied. Enigiemand wat belangstel om by so `n vereniging aan te sluit, is welkom om ons by ondergenoemde selnommer te skakel.

Astro Tours sal die hele Desembermaand vir sterrekyksessies beskikbaar wees.
Hans en Tilanie wens almal `n Geseënde Kersfees en `n Voorspoedige 2009 toe.

Hou die sterre in u oë ! Tilanie : 072-732-2950

No comments: