Sunday, November 30, 2008

Helena Marincowitz-Gedenkplaat Onthul by Museum

- Debbie Badenhorst -

Op Dinsdagmiddag, 28 Oktober, het al die Vriende van die Museum en lede van Erfenis Suid-Afrika (vroeër die Simon van der Stel Stigting) by die Fransie Pienaar Museum bymekaargekom vir ’n baie spesiale geleentheid: Om ’n gedenkplaat ter ere van Helena Marincowitz te onthul. Op die blou porseleingedenkplaat staan:

HERITAGE SOUTH AFRICA
HELENA MARINCOWITZ
1931-2007
Ter erkenning van haar onskatbare bydrae tot Prince Albert se erfenis
SIMON VAN DER STEL
FOUNDATION


Helena het as jong bruid saam met haar man Pat Marincowitz op die plaas Klein Sleutelfontein aangeland. Die BSc-graad in Dieëtkunde wat sy op Stellenbosch behaal het, sou haar nog goed te pas kom in haar nuwe lewe as boervrou. Met groot erns en entoesiasme het Helena haar plek aan haar man se sy volgestaan. Sy het met haar eie Angora-stoet se vesel gespin en geweef. Haar ragfyn borduurwerk is op Suid-Afrikaanse skoue en selfs oorsee deur baie mense bewonder.

Helena se lewendige belangstelling in mense, haar nederigheid jeens haar eie talente en haar opgeruimde en blymoedige persoonlikheid, het van haar ‘n gerespekteerde lid van ons gemeenskap gemaak. Sy het ‘n positiewe bydrae gelewer in die vele organisasies waaraan sy behoort het: die VLV, kerkraad, ouetehuiskomittee, skoolkomittee en selfs die Voortrekkers. Sy was een van die stigterslede van die Simon van der Stel Stigting. Helena het die vermoë gehad om almal rondom haar te laat glo dat niks onmoontlik is nie, en dat daar ‘n oplossing vir elke probleem is. Sy het baie mense aangemoedig om nie hul talente onder ‘n maatemmer weg te steek nie, maar te benut en te ontwikkel. Haar oorsese besoeke het haar meer bewus gemaak van ons eie dorp en omgewing se kosbare erfenis, en dat dit vir die nageslag bewaar moet word. Haar visie, dat die karakter van Prince Albert as ‘n kultuurbate behoue moet bly, het aanleiding gegee tot die navorsing oor die geskiedenis van ons ou geboue.

Die eindproduk van Helena se aansteeklike entoesiasme en volgehoue harde werk was die verklaring van agtien nasionale gedenkwaardighede in ons dorp en distrik. Uit haar pen het vyftien boeke en vele artikels gevloei wat uiteindelik ook ander mense meer bewus gemaak het van die waarde van bewaring. Danksy haar vérsiendheid kyk ons almal vandag met ander oë na ons erfenis: ons ou geboue én ons klein dorpie met sy eie unieke karakter.

Terwyl die son in die weste sak, het die genooide gaste met ‘n glasie wyn en ‘n eetdingetjie gestaan en Mary Ann Botha kon almal welkom heet. Lydia Barrella het gepraat oor Helena, die uitsonderlike vrou wat op die een of ander wyse ons almal se lewens aangeraak het. Die meeste van ons het ‘n knop in die keel gekry toe oom Pat een van sy vrou se pittige staaltjies oor haar lewe op die plaas voorgelees het.

Judy Maguire het die geleentheid benut om oor ons dorp en sy ryk erfenis te praat en daarna aan John Southern sy toekenning van die Kultuurstigting oorhandig vir sy bydrae tot die bewaring van ons ou geboue.

No comments: