Sunday, November 30, 2008

Lekker, leersame kamp vir leerders

- Nadia Lerm -

Een en twintig van ons bevoorregte Graad 7 leerders van Hoërskool Zwartberg het vanaf 26 - 30 Oktober by Hartenbos gaan kamp.

Die program was lekker vol! Dag 1 was ons in Wildernis, waar ons op die Tourivier geroei en ‘n staproete langs die rivier gedoen het. Die middag is ons na Waterworld by Diaz Strand en Dinsdagoggend is ons na die Spoorwegmuseum waarvandaan ons met die Choo-Tjoe tot by Mosselbaai gery het. Daarna is ons Akwarium en Skulpmuseum toe en het ons ook na Dias se karveel gaan kyk.

Woensdag het ons met die ferrie op die Knysna-meer gevaar en met ‘n 4x4 voertuig deur ‘n reservaat gery. Ons het ook ‘n staproete van twee kilometer gedoen en ná middagete is ons Olifantpark toe, waar ons die olifante gevoer het. Daarna het Birds of Eden gevolg, wat vir die meeste van ons die hoogtepunt was. Donderdag, ons laaste oggend, het ons met die 7 seas om Robbeneiland gevaar en toe, ongelukkig, was alle goeie dinge op ‘n einde.

Ons wil vir Spar baie dankie sê vir die groot borgskap wat ons ontvang het, ook baie dankie aan die ouers wat bygedra het. Dan, ‘n spesiale dank aan Meneer Danie wat ons rondgery en veilig huistoe gebring het. Dankie, Juffrou Verlè, dat jy vir ons die Kamp gereël het. Dit was vreeslik lekker!

No comments: