Wednesday, March 28, 2007

Leeu-Gamka Nuus

- Charlotte Bothma -

Tukkies voorlegging

Op Dinsdag 13 Maart het ‘n verteenwoordiger van die studente van Tukkies ‘n voorlegging van hulle planne vir Leeu-Gamka in die Gemeenskapsaal kom doen. Dit was beslis die lang wagperiode werd. Die planne en voorstelle lyk pragtig. Die volgende stap is om ‘n werkswinkel te hou, waarin daar bespreek kan word hoe hierdie planne tot uitvoer gebring kan word. Baie dankie aan John Peska, die studente afgevaardigde wat die voorlegging kom doen het en Dr Frans Jordaan en Liza Pretorius van die Departement Omgewingsake en Toerisme. Hulle betrokkenheid by ons klein gemeenskappie is van onskatbare waarde.

Die planne en voorstelle sal by die Kwekery en Padstal uitgestal word.

Leeu-Gamka kom fees toe

Leeu-Gamka gaan hierdie jaar ‘n stalletjie by die Prince Albert Fees hê. Dit sal Leeu-Gamka se eerste bemarkingsgeleentheid wees waarin die gemeenskap van Leeu-Gamka betrek sal word. Kom loer gerus in by ons stalletjie vir die volgende produkte en items: vetplante, olyfbome, handgemaakte klei potte deur Lidi, Filomon se draadkarre, die naaldwerk projek se handgemaakte items en nog vele meer.

No comments: