Wednesday, March 28, 2007

Awie Cupido – 28 Februarie 1932 – 16 Februarie 2007


-Matulda Mooneys-


Abraham Johannes Cupido was, net soos die Bybelse Abraham, ‘n godvresende en gelowige man wat sy lewe lank in diens gestaan het van die Here.

Hy was ‘n leier, nie net vir die gemeente van St John the Babtist nie, maar vir die hele gemeenskap van Prince Albert. Vir elkeen wat swaar gekry het, kon hy ‘n woord van troos of bemoediging spreek.

Kort voor sy heengaan was hy ‘n ledeprediker in die Anglikaanse Kerk waar hy menige begrafnisdienste waargeneem het. Hy was lid van die CMS, plaaslik sowel as bisdomlik, en hy was ook deel van ‘n interkerklike groep wat jaarliks ‘n Week van Gebed gereël het. Op sy dag was hy lid van die destydse skoolkomitee.

Hy was ‘n prominente figuur. ‘n Voorloper en rolmodel. Sy begrafnis was ‘n grootse, aandoenlike gebeurtenis. Die stoet, bestaande uit motors en voetgangers, het van sy huis af deur die hoofstraat beweeg tot by St John’s Kerk.

Die Saterdagoggendverkeer het die gepaste eerbied betoon. Die blaas-orkes op die hoek by die kerk het pragtig gespeel as ‘n laaste eerbetoon aan ‘n man wat sy lewensverhaal in sy eie handskrif voor sy dood, opgeteken het .

Oom Awie word oorleef deur sy vrou Christien, met wie hy op 4 Oktober 1953 getrou het. Uit die huwelik is nege kinders gebore, sewe seuns en twee dogters.

Hulle het hul swaarkrydae gehad, maar soos oom Awie self skryf: “Ons het by die Here gebly en ons het nooit ons huissake vir ander vertel nie. Ons het alles vir die Here gegee sodat die Here die sake kon regmaak.”

Almal wat hierdie groot man geken het, eer sy nagedagtenis.

No comments: