Wednesday, March 28, 2007

Die Padmaker van Gamkaskloof


-Denise Ohlson-

Aan die einde van 1959 was Jacobus Hendrikus van Zyl 23 jaar oud. Hy is in diens van die Afdelingsraad van Prince Albert en kry die opdrag om ’n pad na Gamkaskloof man alleen te bou. Met energieke entoesiasme begin hy met die taak, wat hom en sy Allis Chalmers kruiptrekker twee en ‘n half jaar lank besig gehou het.

In sy 69ste jaar publiseer hy ‘n boekie in rymvorm onder die titlel: Uit: Die Pen van die Padmaker, vol interessante feite,met sestien baie insiggewende foto’s. In ‘n afdruk van ‘n pragtige artikel deur Rykie van Reenen word vertel van die 21 saluutskote en die gul ontvangs die dag toe dr Otto du Plessis Gamkaskloof op Willie Rossouw se witperd Venus binne gery het om ondersoek in te stel na hul versoekskrif, aan die Provinsiale Administrasie, vir ‘n pad dorp toe. Die administrateur het ná hierdie tog besef hoe moeilik die Kloof se mense kry om veral hul bone, droëvrugte en uiesaad met donkies te vervoer. Sy aankondiging dat ₤5,000 aan die Afdelingsraad toegeken gaan word, vir die bou van die pad, het die hele Gamkaskloof laat juig.

Die pad na Gamkaskloof word gebou
Oor rante en klowe, plek-plek baie nou.
Kosie van Zyl is sommer ‘n bog snuiter.
Maar hy ry daardie ysterperd soos ‘n ware ruiter.
Eers word daar geloop om die roete sorgvuldig uit te pen,
Dat die masjien en sy drywer hul draaie kan ken.
Die kruiptrekker beur met klip en grond voor die lem
En so word Gamkaskloof se kranse en steiltes getem.


Oor sy prestasie is Koos Pad baie beskeie. Hy sê in sy voorwoord: “U kan self daar gaan ry, en dan uself afvra of dit ‘n mens alleen was, wat hierdie pad gebou het. Ek glo nie. Dit was net die Here wat hom veilig deur Elandspas gedra het. Sonder sy Maker, was dit onmoontlik.”

Ongelukkig kon die Vriend hierdie boorling van Prince Albert nie verder uitvra nie. Hy is in Januarie oorlede, maar hy het sy lewensdroom vervul en sy eenmalige storie oor Gamkaskloof en sy inwoners is met wonderlike humor en groot patos opgeteken vir die nageslag…

Oom Piet Mostert en Vaal Johans was eie bloedbroers.
Op mekaar se erf grondjies was hulle maar taamlik jaloers.
Al die jare het hulle maar knor-knor geboer,
Tot die hael en die wolkbreuk Bo-plaas het in sy moer.

Die boekie is te sien by die Fransie Pienaar Museum en te koop by Sampies teen R45.

No comments: