Wednesday, April 25, 2007

Gamkaskloof se Raaisels

- Christine Thomas -

Só baie het verander sedert die “voortyd”. Die tyd toe die Gamkasklowers hul smal groen vallei bewoon het. Vandag soek besoekers tevergeefs na oorblyfels van hierdie eiesoortige pioneers se oorspronklike volkskultuur. Hul landerye, wingerde en boorde is oorgroei; hier en daar kan ‘n paar skerp oë dalk nog ‘n lemoenboom of wat tussen die ruie rivierbosse bespeur.

Verlore is hul vindingryke implemente, hul vernuftige werkmetodes; weggedra is die knap handgemaakte meubels… Ook die ou staatmaker “Welcome Dover” stowe het nuwe staanplekke gekry in dorpskombuise - waar hulle vandag selde nog gebruik word. Selfs die beskeie plaaswonings met hul bekoorlike eenvoud is onlangs opgeknap - om in die moderne smaak te val van toeriste uit al die uithoeke van die wêreld.

Dit is dus ‘n groot geluk dat Brian du Toit die vallei in April 1965 met sy studente besoek het om die volkskultuur van hierdie geïsoleerde gemeenskap van een honderd siele te bestudeer. Eg en outentiek, so uit die monde van die geharde pioneers, het hulle twee honderd raaisels opgeteken – ‘n ware brokkie volkskultuur – wat destyds gepubliseer is in ‘n artikel in die tydskrif Volkskunde en Volkstaal.

Vanselfsprekend bied raaisels genot en vermaak, maar Brian kom in sy artikel “Die kulturele rol van die raaisel” tot die gevolgtrekking dat die Gamkasklowers raaisels vir intellektuele stimulasie uitgedink en gevra het. Hulle het formele geleenthede gereël waar familie en vriende in ‘n atmosfeer van wedywering bymekaargekom het om mekaar se vernuf te toets.

Die antwoord is nie sommer geopenbaar as die deelnemers nie flink genoeg kon dink nie. Verkeerde antwoorde is uitgepluis en hoe langer die raaiselsteller die mense aan die raai kon hou, hoe meer status het hy gewen. Soms het dit selfs ‘n paar dae geneem voor die antwoord uitgewerk is. Tyd was volop - en terwyl jy skoffel in die groentetuin of brood knie in die kombuis of bokke oppas in die veld, bly jy soek na die antwoord.

Informeel is minder bekendes ook sommer met die intrapslag met ‘n raaisel gekonfronteer – en so is hy of sy heel vinnig beoordeel! Saans het jonk en oud snoesig langs die vuur gesit, of gehurk langs die es, raaisels uitgedink en gevra. Die koffie het aan die kook gebly en die jong mense het die geleentheid gebruik om met ‘n klip-handmeul ‘n bietjie meel te maal.

Daar is gewedywer om die moelikste raaisel te vra en die meeste meel te maal. Vir kinders was die stel en uitpluis van raaisels van opvoedkundige belang. Hul denkprosesse is gestimuleer, hul oplettendheid opgeskerp en hul redenasievermoë ontwikkel. Selfs van hul stories en “fee-verhale” is aan raaisels gekoppel – die held in die verhaal moes raaisels ontleed om die pragtige prinses te wen…

Die gewildste onderwerpe vir hul raaisels was die natuur, die diere en die plante. Gereedskap, huishoudelike artikels, dele van die liggaam, en natuurlik die Bybel, was ook ‘n bron van inspirasie. Al klink van die raaisels hier en daar dubbelsinnig, is hulle verseker nie plat of grof nie. Sodra jy die antwoord hoor, voel jy eintlik verleë dat jou gedagtes so in ‘n heeltemal verkeerde rigting gedwaal het!

VOORBEELDE VAN DIE RAAISELS
Raai, raai. Wat maak jy as jy oor 'n rand loop?
Raai, raai. Watter stoel het die man laat staan toe hy geloop het?
Raai, raai. Waaroor treur 'n treurwilger?
Raai, raai. Op watter bank het nog nooit 'n mens gesit nie?
Raai , raai. Daar is 'n groot blou koei, sy het elke vyf minute wit kalfies?

Die raaisels getuig van knap denkprosesse, voortreflike oplettendheid, slim woordgebruik en speelse energie. Kyk gerus agter in die boekie, wat saam met die uitstalling van die skilderye bekendgestel sal word, om te besluit wat die antwoorde dalk kan wees. Vele meer raaisels in Afrikaans en Engels verskyn ook in die boekie.

(Dankie aan Denise Ohlson vir die vertaling )

No comments: