Wednesday, April 25, 2007

SoetKaroo se Kelder ingewy

-Denise Ohlson-

Met die aankoop van ‘n mooi ou Kaap-Hollandse huis op sy hektaar grond het Herman en Susan Perold in 1995 gedink aan neute of olywe plant, maar ‘n besoek van ‘n wynmakersvriend uit Stellenbosch het gelei tot die aanplant van wingerd en die maak van ‘n besonderse dessertwyn genaamd SoetKaroo. ‘n Dubbel Goud (medalje) en ‘n Trofee by die 2005 Michelangelo International Wine Awards!
Die behoefte aan ‘n kelder was duidelik, en met ‘n kortkursus in kleinskaalse wynbereiding agter die rug, begin hulle hul eie kelder inrig. Tyd of geld is daar nie vir ‘n splinternuwe parskelder nie; die pakkamer langs die motorhuis moet die ding doen. Herman is te besig met die wingerdpraktyk en so word Susan beplanner en, teësinnig, boukontrakteur.

Die wynkursus het benadruk dat sanitasie en kelderhigiëne allerbelangrik is vir suksesvolle wynbereiding. Die pakkamer se mooi rietplafon word bedek met dik polistireen vir goeie isolasie. Die mure word geverf met ‘n spesiale wasbare produk. Die vloer word bedek met swaar-diensteëls en net ‘n spesiale organiese wasmiddel word gebruik. Alle chloor of chloor-verbindings is taboe. Enige spatsel of sap word blitsig verwyder sodat daar geen broeiplek vir kieme is nie. Deurentyd word die vertrek koel en donker gehou. Alles anti-swam en anti-bakteries.

Met fisieke inspanning word die druiwesap met emmers en bekers deur siwwe en lappies bewerk. Angstige nagte volg wanneer die suiker te vinnig val en die sap van die doppe afgetrek moet word. Maar die loon is in die wonderlike slaap wat jy slaap as die taak afgehandel is, die doppe op die komposhoop en die sap rustig in die tenk is. In hierdie stadium is die nuwe pophuis-kelder se tenke vir die eerste keer gevul en SoetKaroo 2007 ontwikkel haar kenmerkende geur en kleur terwyl dit stadig afsak en blink raak. Veel later, hopelik na ‘n ordentlik koue winter, behoort die sappies reg te wees om gebottel te word.

Eers dan sal ons almal weet of Herman en Susan erg voortvarend was om wynmakers te wil wees en of dit ‘n goeie besluit was!

No comments: