Wednesday, April 25, 2007

Sterreprag oor Prince Albert

-Hans Daehne-

Aan die stand van die bekende sterrebeelde word dit nou met `n blik na bo in die nagtelike hemel duidelik dat ons al in die Herfs is.

Die bekende Orion skuif al meer weswaards en maak plek vir Leo wat nou op sy rug in die aand bokant ons koppe lê en dit beteken 12 uur sterretyd = Herfs.

Behalwe vir die helder Regulus (klein koning) is daar in Leo nog `n helder "ster" wat nie normaalweg daar hoort nie en dit is die planeet Saturnus in al sy prag.

Die maand Mei begin met die seldsame aandverskyning van die vinnige Mercurius wat op die 2de op sy helderste sal wees, maar vir sy waarneming sal mens definitief op Gordonkoppie moet wees.

Venus word al hoe helderder onderweg na haar helderste verkyning op die 5de Julie en sal nou sigbaar wees vir `n paar ure na sonsonder. In `n sterk verkyker of in `n teleskoop kan mens sien dat Venus fases vertoon soos die Maan.

Dit was wat Galileo Galilei met sy teleskoop waargeneem het en dit was vir hom die bewys van die korrektheid van die heliosentriese wêreldbeeld.

Die Europese satelliet Venus-Express het in April 2006 by Venus aangekom en in `n wentelbaan om die planeet ingeswenk om vir ons meer inligting omtrent die oppervlakte van ons buurplaneet te kan versamel.

Jupiter word ook helderder en is nou die hele nag sigbaar in die sterrebeeld Skerpioen.

Jupiter se vier groot mane Io, Europa, Ganimedes en Kallisto is soms in baie aanskoulike konfigurasies met hulle planeet te sien en dit gebeur weer hierdie maand op die 4de, 10de en 19de dat hulle almal op `n feitlik reguit lyn sal lê.

Nuwe Maan is op die 15de Mei en op die 18de sal Mercurius, die sekelmaan met aardskyn), Aldebaran, Venus en Saturnus almal saam sigbaar wees op die Ekliptika.

Ekliptika word die vlak van die Aarde se baan on die Son genoem en dit is ook op hierdie vlak waar al die ander planete en die Maan te vinde is. Die 12 sodiaksterrebeelde (diereriembeelde) lê ook op of naby hierdie vlak . So kan dit gebeur dat die Maan soms `n ster van `n sodiaksterrebeeld kan verberg (okkulteer).

`n Okkultasie van El Nath (ß Tauri, helder ster in die noordelike horing van die Bul) deur die Maan vind plaas op die 18de vanaf 18h23 tot 19h12 . Dit kan met behulp van `n verkyker op `n driepoot waargeneem word.

Hou die sterre in u oë !

No comments: