- Dawid Rossouw -
Wat ‘n uitsonderlike mens! Sy sal gemis word omdat sy ‘n prominente rol oor ‘n lang tydperk op vele terreine gespeel het en ‘n verskil gemaak het, maar sy sal onthou word vir wat sy nagelaat het, ‘n duidelike, rigting-gewende voetspoor.
Of dit nou in die beheerraad van die skool, die kerkraad, VLV bestuur, die museum se beheerraad, ouetehuis, Stigting Simon van der Stel of watter baie ander organisasies sy ookal gedien het, haar opinie is gerespekteer en haar dryfkrag het geïnspireer.
Met ‘n graad in huishoudkunde was sy goed toegerus toe sy haar saam met Pat op Sleutelfontein gevestig het. Haar rol as boervrou het sy uitstekend vervul en ook nog kans gesien om ‘n leidende rol in Klaarstroom en Prins Albert te speel, veral in die VLV. Met spin en weef, kleur van vesel het sy meester-stukke gelewer. Ragfyne borduurwerk deur haar flytige hande is nie net in SA bewonder nie, maar het ook internasionale erkenning verwerf.
Geleidelik het haar wye belangstelling op die kultuur en argitektuur begin fokus. Sy was ‘n ywerige, kundige en meelewende Voortrekker offisier. Saam met die Volstruise is staptogte onderneem, naweke op die berg geslaap, inlywingseremonies beleef en kentekens verwerf. Die jeug-kultuur aktiwiteit het met haar kennis en entoesiasme op Prins Albert geblom en haar liefde vir kinders sal voortleef in Voortrekker-gedagtes.
Helena en die museum is een. Van ‘n eenmansbelangstelling het sy die museum laat groei tot gemeenskaps trots. Haar wonderlike vermoë om baie dinge te doen en ander die eer te gee, is kenmerkend. En wanneer sy self nie iets kon doen nie, het sy haar oorredingsvermoë gebruik en is haar versoek met liefde uitgevoer. Sy kon glo in ‘n saak en dan werk, dink en praat sy voluit en deins vir niks terug nie.
Haar insig dat die karakter van Prins Albert in sy kultuurbate behoue moet bly, het meegebring dat baie geboue hier as gedenkwaardighede verklaar is, dat vervalle en geskende geboue outentiek gerestoureer is en vandag die bewondering van besoekers afdwing en beslis ‘n bydrae maak tot toerisme en dus ekonomiese groei. As stigter en rolspeler in die estetiese komitee het sy die hande van die munisipaliteit versterk om geboue te bewaar. Haar uitdrukking dat as een van ons historiese geboue sou verdwyn, dit sou lyk soos ‘n voortand wat vermis word, was reg in die kol, gepas. Terloops, aan die suidekant van Orton se winkel staan ‘n muur wat halfpad afgebreek is. Haar opdrag was : “stop dit”. Mag die muur ‘n stille getuie wees van haar stryd om te bewaar wat eie aan Prins Albert is.
Mense sê as iemand met ‘n wye kennis te sterf kom, brand ‘n biblioteek af. Helena het haar kennis vir ons in ‘n brandkluis gesit toe sy oor jare ywerige navorsing gedoen het en meer as 15 boeke nagelaat het. Wat ‘n skat!
Helena se krag het gelê in haar geloof in haarself, geloof in haar Skepper en haar geaardheid dat as sy nie iets goeds kan sê en doen nie, doen of sê sy dit nie. Gevolglik het sy wye ondersteuning en vriendskapsbande onder ons bruin-, Afrikaans- en anderstalige gemeenskap gehad.
Gepas sal tydens die Heritage South Africa Symposuim (10 en 11 Augustus) ‘n toekenning op hoë vlak aan haar gemaak word. Dit sal die kroon span op ‘n ryke en vrugbare lewe in diens van haar Meester en gemeenskap.
Ons eer haar nagedagtenis en bid haar man, Pat, en kinders vertroosting toe.
Saturday, July 28, 2007
Helena Marincowitz: 1931 – 2007
Posted by Prince Albert Friend at 9:15 PM
Labels: Helena Marincowitz, Memoriam
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment