Saturday, July 28, 2007

Redaksionele Kommentaar

Kindermolestering en geweld teen die weerloses in ons samelewing het weer skerp in die kollig gekom met die ontdekking van die lyk van die dertienjarige Elizabeth Martiens in ‘n plaasdam in die Leeu Gamka distrik.

Die Vriend het die saak so feitelik en deeglik gedek as wat in die omstandighede moontlik was. Ons harte gaan uit na almal betrokke by die aangeleentheid, en, soos hulle, verwag ons dat die regstelsel die gemeenskap nie sal faal nie.

********

Gedurende die afgelope paar maande het Prince Albert verskeie inwoners aan die dood afgestaan. Inwoners wat, almal uit eie reg, hul stempel op ons gemeenskap afgedruk het.

Hier by Die Vriend vier ons hul lewens en spreek ons ons meegevoel uit teenoor hul familie en vriende.

********

Dankie aan al ons lesers wat gereageer het op ons beroep in die uitgawe van Februarie 2007 vir “interessante, onderhoudende en nuuswaardige bydraes“. Dit het ongetwyfeld bygedra tot die positiewe kommentaar betreffende die gehalte en diepte van berigte wat die afgelope paar maande in Die Vriend verskyn het.

Hoewel alle bydraes gunstig deur ons redaksie oorweeg word vir publikasie, kan ons ongelukkig nie elke berig wat ons ontvang publiseer nie – en soms moet bydraes verkort en/of geredigeer word. Praktiese oorwegings, spasie, styl en algemene koerantpraktyk is immer die bepalende faktore.

No comments: