Saturday, July 28, 2007

Landbou nuus

Die afgelope ses maande was nie sonder opwinding nie. Prince Albert Landbou Vereniging het weer soos laas jaar relevante sake in vergaderings aangespreek. Ons het ook ‘n paar nuwe lede bygekry. Vergaderings word so gestruktureer dat elke boer daarby baat vind, ongeag sy boerderyvertakking.

Gereelde maandvergaderings word soms vervang met boeredae waar lede op ‘n praktiese manier inligting bekom. Ons besoek mekaar se plase en gee raad aan mekaar op persoonlike vlak.

Lede kry ook die geleentheid om met kundiges wat op sulke dae teenwoordig is, te gesels. My persoonlike ondervinding is dat ‘n mens meer leer op die manier as wat jy ure sit en luister.

In die begin van die jaar is ‘n Besproeiingsdag aangebied. In Maartmaand het ons ‘n Kleinveedag aangebied met die volgende kundiges: Dr Philip Botha van Outeniqua Proefplaas oor aangeplante weidings; Dr Sue Milton-Dean oor korrekte bestuur van natuurlike weiveld (bewarings-ekologie); Charl du Plessis, landbouvoorligter, oor veeproduksie; Dr Hannes van der Merwe oor wolvesel verwerking. Selfs die veeboere het iets geleer.
In Meimaand het ons ‘n Steenvrugtedag aangebied, weer eens met kundiges van buite. Daar was baie vrae en bespreking rondom wintersnoei wat nou begin; Andrew Hacking het ons bietjie herinner aan die basiese beginsels. Die jongste beskikbare bedryfsyfers was ook onder bespreking, en dit het beroerd gelyk om die minste te sê; Jacques du Preez van die OABS was hier die man met die syfers.
In die onderskeie bedryfsvertakkings moet al hoe meer gemeganiseer en arbeid tot die minimum beperk word om produktiwiteit te verhoog. Hoekom sukkel met swak arbeid as jy goeie masjiene kan gebruik teen heelwat laer koste? Dit is ongelukkig die rigting waarin ons gedwing word in vandag se omstandighede. Voorbeelde hiervan is kanonspuite wat self loop en stop (geen meer spuite wat geskuif word nie), terwyl ander werk in dieselfde tyd gedoen word. Elektriese skaapskeermasjiene, krane wat met radioseine oop en toe gaan, mikrospuite en druppers wat nie verstop nie; (Johan Swart van Agriplas het ons kom vertel van die nuutste op die besproeiingsfront). Trekkers het nie eens meer bestuurders nodig nie, want sateliete word gebruik om hulle in die regte rigting te stuur.

Kommersiële landbou is in ‘n oorlewingstryd gewikkel. Insetkoste skiet die hoogte in op elke terrein van boerdery en die inkomste krimp. Ons ding mee met kommersiële boere in ander lande wat nie weet wat dit is om sonder subsidies te boer nie. . Nou ontstaan die vraag: watter kans het opkomende boere om hulle op plase te kan vestig in hierdie ongenaakbare globale omgewing en dit ten spyte van regeringshulp?

Wonder bo wonder bly die boere op ‘n snaakse manier positief. Dit is mense wat nie weet van “gaan lê” nie; moed opgee bestaan nie in ‘n boer se woordeskat nie, hoewel ons al baie op “moedverloor se vlakte was”. ‘n Boer is ‘n snaakse ding, miskien binnekort ‘n rare spesie (definitief ‘n bedreigde een!), hy probeer gedurig “aan die hemel vat” en dit is wat ons landbou aan die gang hou. Almal moet eet! Dit is tyd dat mense buite die landbou dit besef. Hou op met klippe gooi en met swak en onwaar beriggewing die landbou skaad. Onthou, landbou is die fondasie van elke gesonde ekonomie regoor die wêreld.

Landbougroete
Jacques du Plessis

No comments: