Thursday, July 30, 2009

Die 1979 Matrieks hou 30 jaar Reünie

- Mari du Toit -

Dertig jaar gelede het Hoërskool Zwartberg twintig matrikulante gehad wat op 19 September 1979 matriekafskeid gehou en toe die eindeksamen geskryf het. Almal het geslaag en elkeen het sy grootmenslewe tege-moetgegaan.

Tydens die Olyffeesnaweek van 1 en 2 Mei 2009, het vyftien van die oorblywende agtien teruggekeer na Hoërskool Zwartberg en weer ‘n “klasfoto” geneem. Dit was een groot fees!

‘n Jaar gelede het die hoofseun van 1979, Kobus van Zyl, begin om vir ons “onthou jul nog” stories per e-pos te stuur. Hoe meer ons onthou het, hoe meer opgewonde het ons geraak. Sommige van ons het mekaar letterlik dertig jaar laas gesien.

Die Vrydagmiddag het die groep begin arriveer vanuit alle hoeke van die land. ‘n Groot groep het in Kroonhof koshuis geslaap. Die Vrydagaand het Marike Heyns ‘n baie lekker ete in die eetsaal voorgesit en daar is tot laataand gekuier, gelag, stories vertel en Stoffel se duisende foto’s teen die muur het al die herrinneringe opgediep.

Saterdagoggend het diegene wat betyds kon opstaan, saam by La-di-dah ‘n kuier-ontbyt geniet. Natuurlik is die plek op horings geneem, net soos dit ons gewoonte dertig jaar gelede ook was om ons stempel op ons dorp af te druk. Daarna het elkeen sy wederhelf op ‘n “memory-lane trip” geneem en die plekke gaan opsoek waarvan ons in Kobus se “onthou jul nog” stories gelees het.
Die aand vergader ons toe weer almal by die skoolsaal waar ‘n aangename verrassing op die groep gewag het. Vier van ons onderwysers was teenwoordig en sowaar ook ons Sub-A juffrou van 42 jaar gelede! Ons het weer deur die skool gestap en ons verwonder aan ‘n lieflike rekenaarlokaal (destyds was daar glad nie so iets soos rekenaars nie). Ai, die bankie voor die kantoor was nog presies dieselfde. Die manne het weer gaan sit en toe agtergekom: die gevoel is nog dieselfde, maar die lywe is nou heelwat breër. Daar pas nie meer so baie langs mekaar in nie!
Ons het die lekker “steaks” uit Upington gebraai en gekuier om die vure. Dawid Rossouw, ons Afrikaanse onnie en die organiseerder van die kadette in die skool, pas vandag sowaar nog in sy weermagbaadjie van destyds! Pieter Viljoen moes hoor hoe baie hy die manne gelooi het oor hul houtwerkpunte... maar hy was ‘n baie lekker st.5 klasonnie.

Nadat ons heerlik geëet het, het ons die bankies nader getrek tot voor die verhoog. Die matriekfoto is mooi bestudeer en ons het weer op dieselfde plekke gaan staan vir 2009 se foto. Selfs die onnies moes kom sit en na middernag het ons nog steeds gekuier.

Sondagoggend is elkeen weer terug na sy bestemming. Die naweek was absoluut te kort. Die geleentheid om lank met elkeen te gesels, was net nie daar nie. Ons moes tog immers nog uitvind wat die afgelope dertig jaar met elkeen gebeur het.

Ons het opnuut besef dat Prince Albert ons fondamente verstewig het en dat ons onbewustelik impak op mekaar se lewens gemaak het. Ons het destyds saam gegroei om te kon word wat ons vandag is.

Ons het die Saterdagaand tussen ons reüniegangers fondse ingesamel waarmee 35 olyfbome aangekoop is om in die pastorietuin te plant. Twee van die olyfbome is spesiaal geplant ter nagedagtenis aan Veronica van Vuuren en Jannie Nel wat reeds oorlede is en nie in ons vieringe kon deel nie.

Die 1979-matrieks wil met die olyfboompies dankie sê vir alles wat ons ontvang het van Prince Albert.

In Kobus se woorde: “Ons haal ons hoede af en sê dankie vir elkeen wat met liefde gedien het en die pad saam met ons geloop het - alle eer aan ons Skepper”.

No comments: