Thursday, July 30, 2009

Prince Albert Kieliebeentjies se Duitsland-toer

- Marlene Willemse -

Bodo Toelstede en ek, die twee lede van Die Prince Albert Kieliebeentjies, het op 30 Junie Duitsland toe vertrek op uitnodiging van die Hemslinger Blaasorkes – die orkes wat op 18 Oktober 2008 tydens Hoërskool Zwartberg se 7de Duitse Oktoberfest hier opgetree het.

In November al het ons begin oefen aan ons program en Bodo het vir my ‘n paspoort en visum gereël en my ook ‘n bietjie Duits geleer.

Toe ek verlede maand saam met Bodo na Duitsland vertrek het, was ek maar erg senuweeagtig. Dit was die eerste keer dat ek in 'n vliegtuig gery het! Maar wie nie waag nie sal nie wen nie...

Die tyd in Duitsland was wonderlik. Almal was so vriendelik: ek is bederf, elke dag. Ek het by vriende van die Toelstedes gebly en die kos was wel vreemd vir my, maar tog baie lekker.
Veral die ontbyt van verskillende broodjies, konfyt, heuning, wors, kaas, eiers, joghurt en vrugte was vir my heel anders. Ook die feit dat die somerson 23h00 nog steeds geskyn het, was baie snaaks!

In Bremen is ek herinner aan die sprokie van die Musikante van Bremen en in Hamelin aan die sprokie van die rotvanger. In Hamburg het ek twee keer op 'n bootrit gegaan! In die Barkasse het ek saam met ander toeriste deur die hawe gery en 'n groot "Sasol" advertensiebord ontdek. Sasol vervaardig daar was uit olie wat papier-verpakking dig hou.

Op 4 Julie het ons saam met die Hemslingers partytjie gehou. Die weersiens was vreugdevol. Gerda en Jürgen Klein van Prince Albert was ook daar - en vriende uit Koblenz en Augsburg het ook gekom om Die Kieliebeentjies te hoor. Ek en Bodo het ons Afrikaanse Volksliedjies gesing en 'n groot handeklap gekry. Later, toe ons Afrikaanse “treffers" gesing het, het die mense opgestaan en geskree en gedans en hard geroep: "Nog een! Nog een!" Ongelooflik vir mense wat nie eens Afrikaans verstaan nie!

Twee keer moes ons nog Meisie, Meisie en Rooirok Bokkie sing voordat ons uiteindelik totsiens kon sê! Ons het die ondersteuning baie geniet. Hulle het van die begin af saam met ons hande geklap en hulle was so begeester dat hulle spontaan begin het om geld in te samdel vir ons hoërskool. Die Kieliebeentjies is baie trots daarop dat ons 'n bedrag van R 4,000 aan ons skool kon oorhandig! Ek dra ook groete oor aan die Prince Alberters wat huisvesting aan die Hemslinger-musikante gebied het tydens ons Oktoberfest 2008. Op Sondag 5 Julie was ek 'n eregas op die private partytjie van die "Schützenkönig” van Schneverdingen. Ja, wie sou kon raai dat ek met 'n “koning” langs my sou staan! Dit was ook 'n lekker fees en ek het dit baie geniet.

Wat ek alles beleef het, kan ek nooit vergeet nie. Dinge wat ek op TV gesien het, het ek nou persoonlik ervaar. Ek het mense op sneeu sien ski, toegekyk hoe Bodo met 'n Go-cart van Ralf Schumacher ry, en die vreemdste voëls in ‘n voëlpark besigtig. Daar het so baie dinge met my gebeur, ek glo nie ek het al alles verwerk nie - alles was baie nuut vir my.

Heel eerste wil ek vir my Hemelse Vader dankie sê dat Hy my gespaar het dat my droom kon waar word. Dankie ook aan Bodo, wat alles so mooi georganiseer het, en die mense van Lazy Lizard, wat ons op 27 Junie die geleetheidheid gegee het om ons Duits-land-program te oefen.

Vir die Prince Albert Advieskantoor, wat my so goed aan die hand gevat het, vir die Donderdagklub se donasies en die ASG-gemeente wat hul kollektes uit die aand- en oggenddiens geskenk het, bedank ek hartlik.

Baie dankie ook aan my man Karel wat my dit gegun het om my droom te kon uitleef. Ek is baie dankbaar en sal die ervaring nooit vergeet nie. God se rykste seën wens ek toe op julle almal se lewens.

No comments: