Friday, February 29, 2008

Daar’s altyd iets om voor dankbaar te wees…

André Gouws skakel my een oggend met ‘n versoek: Kan ek die leerders van Maddison Primêr deur die museum neem en meer van ons dorp en sy geskiedenis vertel. So gesê, so gedaan.

Die oggend van 5 Februarie arriveer 46 kinders én fietse én 2 leerkragte by die museum. In my enigheid staan ek die besigheid só en kyk, en dink: “O-oo, die volgende uur of twee gaan maar moeilik wees.” Was ek aangenaam verras!

Opgewonde, tog bedaard, stap die kinders in ‘n ry en kom staan met afwagtende gesiggies voor my op die stoep. Vir die leerders van so ‘n klein skooltjie, is ‘n uitstappie soos dié ‘n belewenis en beslis nie ‘n alledaagse gebeurtenis nie. Ons het van vertrek tot vertrek gestap. Ek het gesels en verduidelik, ons het na die suiwer klanke van die draai-orrel geluister, aan outydse medisyne geruik, en die leerkragte en kinders het vrae gevra en aantekeninge gemaak. Die kinders was soos sponse wat al die inligting, en elke nuwe ervaring wou opsuig.

‘n Paar dae later, toe die museum ‘n bedankingsbriefie en meer inligting oor Maddison Primêr ontvang, het ek besluit om die interessante feite oor die skooltjie met ons lesers te deel.

Maddison Primêr is geleë te Letjiesbos, 42 km vanaf Beaufort-Wes. Die skool is in April 1945 gestig met een leerkrag, meneer J. Stander. Huidiglik is daar 2 leerkragte en 47 leerders, almal kinders van die omliggende plase.

Die leerders woon in die koshuis en gaan selde huis toe, want hulle woon tot 60 km van die skool en baie van die ouers is werkloos. Niks ongewoon nie, sou die leser dink, tog, hier is ‘n skool en koshuis met ‘n verskil: Leerkragte en leerders doen alles self, en saam. Hulle is tans besig, met die Departement van Landbou se hulp, om hul eie groentetuine aan te lê. Hul mikpunt is om mettertyd heeltemal selfonderhoudend te wees. Dink net, vars groente en vrugte, ‘n hanetree van die agterdeur af. Na skool, by die koshuis, werk almal ewe hard om alles glad te laat verloop. Man en muis maak skoon, help kosmaak, wasgoed was, en knie, sodat daar elke aand lekker warm brood kan wees.

Is daar ‘n probleem met stowe wat gedurig breek, en geld is mos altyd skaars, dan word ‘n ander plan gemaak: ‘n Buite-oond word gebou!

Die leerkragte van Maddison Primêr het een belangrike doelwit. Hul belangrikste prioriteit is om hul leerders toe te rus vir die toekoms. Die dag as hierdie kinders skool verlaat, sal hulle selfonderhoudend, verantwoordelik en self-gedissiplineerd wees, met ander woorde, volwaardige landsburgers. Hulle werk hard saam as ‘n span en die woord “vrye-tyd” bestaan nie in hul woordeskat nie. Hulle sug nie, niemand kla nie, hulle weet: daar is altyd iets om voor dankbaar te wees… die dak oor my kop, die bed waarop ek slaap, heerlike warm brood, die mense rondom my wat vir my omgee en my belange op die hart dra … kosbaarder as goud.

Maddison Primêr se leerders sal altyd welkom wees by die Fransie Pienaar Museum. Dit was ‘n voorreg om julle hier te ontvang. Aan die leerkragte: “Doen so voort.”

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: