Friday, February 29, 2008

Ter Wille van 'n groener toekoms

- Richard Dean -

Ons gebruik almal produkte wat in glas, plastiek of blikkies verpak en in plastieksakke vervoer word. Ons ontvang briewe in koeverte en pakkies toegedraai in bobbelplastiek, papier, karton of al drie. Ons word daagliks gekonfronteer met die problem van wat ons te doen staan om ontslae te raak van hierdie en ander items wat nie werklik gemors is nie, maar wat ons nie wil hou nie.

Hoe kan ons van hierdie material ontslae raak op die mees ekologies verantwoordelike manier? Herwinning! Glas kan gesmelt en nuwe houers daarvan gemaak word. Baie soorte plastiek kan gesmelt en hergebruik word, metaal wat herwin word kan gebruik word as aanvulling in die vervaardiging van metale uit grondstowwe en papier kan gepulp en gebruik word vir die maak van “nuwe” papier.

‘n Groep besorgde inwoners van Prince Albert het aan die munisipaliteit voorgestel dat die herwinningsprojek weer ingestel moet word. Die herwinning van herwinbare afval moet versigtig bestuur word, maar ‘n suksesvolle projek is afhanklik van die samewerking van huishoudings wat aan die projek wil deelneem sodat die regte afval herwin word teen die maksimum beskikbare volume. Die voorgestelde projek behels die kolleksie van herwinbare material – glas, plastiek, blikkies, papier en karton – deur die munisipaliteit op ‘n gereelde basis van alle huishoudings wat sulke items in ‘n spesiaal voorsiende sak uitsit. Die herwinbare material sal tydelik gestoor word voordat dit deur Retain Recycle Re-use CC van Oudtshoorn verwyder sal word.

Die vervoer van herwinbare materiale is duur en dikwels die rede dat sulke projekte nie ekonomies is nie. Daarom word voorgestel dat genoeg materiaal ingesamel en vir ‘n tydperk geberg word om dit vir Retain Recycle Re-use die moeite werd te maak om na Prince Albert te kom vir die afhaal van die material. Na ‘n paar siklusse sal daar genoeg inligting wees oor die volume en waarde van die materiaal asook die tydperke nodig om ‘n voldoende volume op te bou, sodat die moontlikhede wat die projek vir entrepreneurs inhou bepaal kan word.

‘n Tweede projek, verwant aan die herwinningsprojek, is ook aan die munisipaliteit voorgestel. Ook hierdie projek het die samewerking van huishoudings nodig. Die projek behels die wegmaak van “groen afval”, gesnyde gras, blare, takke en heel plante wat daagliks weggegooi word en daartoe bydra dat die munisipale stortingsterrein besig is om spoedig maksimum kapasiteit te bereik.

‘n Voorstel is aan die munisipaliteit gemaak in terme waarvan die groen afval gebruik word om kompos te maak. Groen afval wat na die stortingsterrein gebring word sal daar sorteer word in takke en ander fyner materiaal. Die takke sal opgesaag word vir vuurmaakhout en die blare en ander groen materiaal sal in ‘n “chipper“ fyngemaak en in komposhope gestort word.

Hierdie projek sal ook goeie bestuur verg – slegs organiese materiaal kan in die “chipper” gevoer word en die komposhope moet gereeld gedraai en natgespuit word en uiteindelik in sakke verpak word. So ‘n projek sal egter werksgeleenthede skep en kan later, nadat dit gevestig is, deur ‘n entrepreneur oorgeneem word.

Beide voorstelle is by die munisipaliteit ingedien vir goedkeuring deur die raad. Met die ter perse gaan van hierdie artikel is ‘n finale besluit ongelukkig nog nie geneem nie, aangesien nie alle raadslede teenwoordig was by ‘n vergadering op 13 Februarie 2008 waar die voorstelle gedien het. Die voorstelle sal weer op 28 Febuarie deur die raad oorweeg word. Hopelik sal die raad die twee projekte ondersteun as maniere om ‘n groener toekoms vir ons dorp te bewerkstellig op ‘n manier wat ekonomies volhoubaar sal wees.

No comments: