Friday, February 29, 2008

‘n “Half en Half” waarstorie

- Adri Schoeman -

Onlangs word iemand een oggend teen skemer wakker en kry iem-and anders se hoenders in haar werf-tuintjie, besig om lustig tussen die plante te skrop. Sy maak haar hek oop en jaag die hoenderjies sonder seremonie weer werf-uit en straat-in. Ewe rustig gaan die hoenders toe straat-uit en werf-in – die werf aan die oorkant van die straat. “No problem.”

Hierdie petalje laat my toe terugdink aan meer as vyftig jaar gelede in Oudtshoorn. Die man met die mooi blomtuintjie was raad-op en het skertsend gesê dat hy maar sy blomtuin tot niet sal moet maak, want SY blomme is gedurig tussen die buurman se hoenders! En hy het geen bewyse nie – dit moet die blomme se fout wees, want die buurman sê sy hoenders kom nooit soos in nooit uit sy werf uit nie.

Maar soos dit goeie bure betaam, het ‘n ander buurman se ondeunde seuns besluit op ‘n oplossing. Al wat hulle nodig gehad het, was ‘n handjievol mieliepitte, presies net soveel garingdrade en ook net soveel gevoude papiertjies.

Op ‘n sekere laatmiddag toe die buurman sy hoenders vir die nag in hulle hok gaan toesluit sien hy dit: by elke hoender se bek hang ‘n briefie uit – “Ek is ‘n stoute hoender.” En soos dit goeie bure betaam, het geen haan ooit weer na die storie gekraai nie. They all lived happily ever after!

No comments: