Thursday, July 31, 2008

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

In Augustus lyk die sterrehemel weer effens anders as gewoonlik, miskien omdat niemand in die koue maande snags buite lank genoeg vertoef om die geleidelike verandering dop te hou nie.

Dit is nou die tyd vir die wintersterrebeelde Aquila (die Arend), Lyra (die Lier) en Cygnus (die Swaan) wat almal effens bo die horison in `n noordelike rigting sigbaar is. Die helder hoofsterre van hierdie konstellasies, naamlik Altair, Vega en Deneb respektiewelik, vorm dan ook die Winterdriehoek.

Die Swaan word met uitgestrekte vlerke uitgebeeld wat deur `n groot sterrekruis aangedui word . Om die rede word na die Swaan ook as die Noorderkruis verwys.

Effens oos van die Arend kan mens die klein maar maklik herkenbare beeld van die Dolfyn uitmaak.

In die Noordweste is die sterrebeeld Skerpioen besig om van die toneel te verdwyn,
maar in plek daarvan kom die mooi Pegasus in die Noordooste al weer op. Dit is een van die indrukwekkendste sterrebeelde vir die suidelike halfrond weens sy yslike grootte en sy ooreenkoms met `n perdefiguur.

Sagittarius, makliker herkenbaar as `n teepot, is nou hoog oor ons koppe en huisves `n hele aantal uitstaande hemelsvoorwerpe soos oop en bolvormige sterrehopies, gasnewels en galaksies wat met `n verkyker opgespoor kan word, verkieslik vanuit `n lê-ende posisie.

Nuwe Maan is op die 1ste en 30 ste Augustus, `n rare verskynsel, en daarmee wissel die tye vir Nuwe Maan vir die res van die jaar na die einde van elke maand.

Volmaan is in die nag van die 16de Augustus met `n gedeeltelike maansverduistering, wat vanuit die hele Suid-Afrika sigbaar sal wees.
Venus word nou weer die helder Aandster vir `n paar uur na sonsonder.

Mars en Saturnus is nog sigbaar vroeg-aand in Leo, maar Saturnus sal binnekort te naby aan die Son kom en vanaf September weer vroeg soggens verskyn.

Jupiter is nog steeds baie helder die hele nag deur in Augustus.

In die Suide kan mens aan die verskuiwing van die Suiderkruis na wes waar-neem hoe die sterrebeelde van oos na wes om die Hemelsuidpool draai.

Hierdie rotasie is relatief en die gevolg van die aarde se rotasie van wes na oos. Sterre en sterrebeelde wat naby die Hemelsuidpool lê en die hele jaar bokant die horison sigbaar is, word sirkumpolêre sterre genoem. Die klein en groot Magellaanse wolke wat altyd `n pragtige gesig is, kom al weer in die Suidooste op.

Hou die sterre in u oë !

No comments: