Thursday, July 31, 2008

Prince Albert Kerke se Uitreikaksie

- Jan Bothma -

Die gedagte van ’n uitreikaksie tussen “Noord” en “Suid” bestaan al lankal in Prince Albert, maar noudat die plaaslike VGK gemeente ’n nuwe leraar het in ds Nico Cloete, begin die uitreikaksie daadwerklik gestalte gekry – veral ook ná die toeligting deur mev Ilse Koorts van Badisa oor die kritieke afmetings wat sekere verkeerde praktyke in ons gemeenskap aanneem en hoe haglik maatskaplike omstandighede is.

Die uitreikgroep het al twee Sondagmiddae saam met ds Chris Briers en ds Cloete van huis tot huis besoek gaan aflê. Hoewel van die gemeentelede maar skrikkerig was vir hierdie nuwe ervaring, het die Here hulle vooruitgegaan en hulle het by elke huis ’n wonderlike ontvangs gehad. Die geestelike behoefte was baie duidelik. Een man het gesê dat hy aan sy kinderdae terugdink toe die ouderling en diaken nog kom huisbesoek doen het. ’n Vrou, wat eens diaken en ouderling was en ook Sondagskool gegee het, het vertel hoe sy ná haar man se dood saam met ’n ander begin bly het en nooit meer in die kerk kom nie - maar niemand van die kerk besoek haar ooit nie. Sy het behoefte daaraan.

Wat ook wonderlik was, was die entoesiasme waarmee die groep van die VGK met die mense by die besoekpunte gepraat het en hoe hulle die NGK besoekers betrek het. Die boodskap was: Ons werk interkerklik en dit gaan daaroor om Jesus se Naam uit te dra en te wys daar word vir alle mense omgegee.

Ter nabetragting is besluit:
▪ Die jeug moet by hierdie aksie betrek word
▪ Alle ander kerke moet betrek word
▪ Die hande en voete en monde is te min om die werk te doen
▪ Skriftelike lektuur moet by mense gelaat word
▪ Daar moet opvolgbesoeke gedoen word
▪ Die uitreikaksie moet groei en nie doodloop nie

Met die tweede uitreik het die jeug en ook lidmate van ander kerke meegedoen - en dit is baie bemoedigend, want die aksie gaan nie daarom om lidmate vir enige kerk te werf nie. Die doel is om Jesus Christus se Woord uit te dra; om te sê en te wys dat ons Jesus se opdrag uitleef om vir Hom lief wees en vir mekaar om te gee en na mekaar uit te reik.

Intussen is Bybelboekies bekom en dit sal baie goed gebruik word.

Almal wat deel wil wees van die uitreikgroep, word genooi om in te skakel. Hetsy deur straatwerk te doen, deur voorbidding, morele onderskraging of finansiële steun – elke bydrae is van ewe groot waarde.

Belangstellendes kan meer inligting bekom by:
die NGK kantoor 023 541 1510
of die VGK kantoor 023 541 1483.

No comments: