Saturday, September 29, 2007

Frederick Oosthuizen - die man wat die Zeekoegat Kerkie 100 jaar gelede gebou het



- Lydia Barella -

Toe die Zwartberg NG Kerk gemeente in 1842 op die plaas Kweekvallei ge-stig is (ook die stigtingsdatum van die dorp Prince Albert) was dit 'n gemeente wat oor 'n geweldige groot gebied gestrek het - tot by Rietbron in die Weste. Boere moes baie ver ry met kar en perde om kerk- dienste op Prince Albert by te woon en so het Frederick Simon Oosthuizen, 'n welgestelde boer in die distrik, vroeg in die 1900's besluit om 'n kerkie vir die wyk wat toe bekend was as die Traka-wyk op een van sy plase, Zeekoegat, te bou. Grondpad langs is Zeekoegat 65 km van Prince Albert af geleë. In daardie tyd was daar ongeveer 'n 100 gemeentelede in hierdie wyk.

Zeekoegat het 'n bloeitydperk beleef nadat die pad in 1858 deur Meiringspoort oopgestel is en met die ontdekking van goud in 1891 in die omgewing het daar baie mense na die gebied gestroom. Daar was 'n hotel, kroeg, winkel, slaghuis en poskantoor op Zeekoegat.

Maar wie was hierdie man wat die kerk na die mense wou bring? F S (Frikkie) Oosthuizen se familie het 'n lewenslange verbintenis met Prince Albert. Sy oupa, Ockert Almero Oosthuizen, was met die stigting van die gemeente in 1842 'n diaken. Hy was een van die persone wat die kooptransaksie van die kerkgrond behartig het en vyf erwe van die eerste eienaars van die plaas Kweekvallei aangekoop het. Sy seun, Jacobus Oosthuizen, het ook op die kerkraad gedien en in 1860 was hy lid van die boukommisie van die huidige kerk gebou. Jacobus se seun, Frede-rick Simon Oosthuizen, word in 1889 gekies as diaken en in 1906 as ouderling.

F S Oostuizen is in 1856 gebore en in 1936 oorlede. Hy het op die plaas, Zwartkraal, gewoon. Hy was 'n vermoënde man, maar iemand met 'n hart vir die evangelie en in 1906 laat hy die kerkie op Zeekoegat op eie koste oprig. Die kerkie is in Februarie 1907 ingewy en in 1983 as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Sou hy ooit kon droom dat hy nie net 'n pragtige aanbiddingsplekkie in die stowwerige wêreld gegee het nie, maar 'n stukkie kultuurbesit aan die nageslag? In 1929 het hy ook die kerksaaltjie langs die kerkie laat bou en in 1936 het hy die grond en die geboue aan die N G Gemeente Prince Albert geskenk. Hy was baie lief vir kinders en het jaarliks 'n groot vrugtefees in die bos op Zeekoegat aangebied waarheen al die kinders van die omgewing uitgenooi is. In 1933, toe die Bybel in Afrikaans verskyn, het hy 300 Bybels aan die kinders van die gemeente geskenk.

Sy liefdadigheid het nie daar opgehou nie. In 1885 toe ds Adriaan Hofmeyer 'n beroep op gemeentelede gedoen het vir fondse om 'n orrel aan te koop vir die kerk op Prince Albert het Frikkie 150 pond geskenk. Hy het 'n sendingstasie in Masjonaland help onderhou. Verder het hy ook die sendingkerk op Zeekoegat laat bou en die grond en gebou aan die NG Sendingkerk geskenk. Later het die kerk 'n skool en koshuis op die grond gebou. So het baie mense in sy voorspoed gedeel.

Baie gepas is Frederick Simon Oosthuizen langs die kerkie begrawe. Sy vrou, Martha Maria Susanna en 'n seun-tjie, Hendrik, se grafte is ook daar.

Op Sondag 2 Desember 2007 word die honderdjarige bestaan van die Zeekoegat kerkie gevier. Die kleinseun van F S Oosthuizen, ds Freddie S Marincowitz, sal om 10:00 die diens waarneem waarna tee en verversings geniet kan word. Alle belangstellendes is baie welkom om die verrigtinge by te woon.

Kontak Lydia Swanepoel vir verdere inligting by tel 023 5411 942.

No comments: