Saturday, September 29, 2007

Willing Hearts SWD Karoostreek – Kampioene 2007

- T Hendriks -

Saterdag 18 Augustus 2007 het Willing Hearts van Prince Albert op sy tuisveld geskiedenis gemaak toe hy Harlequins van Oudtshoorn in die eindstryd van die SWD Karoostreek verslaan het met 21 – 15. Die rustyd telling was 10 – 10 elk.

Die wedstryd het teen `n baie hoë tempo begin maar op die ou einde was dit Willing Hearts se fiksheid en dissipline wat die wa deur die drif getrek het. James Dido (losskakel) van Harlequins het in die eerste helfte geslaag met `n strafdoel en doelskop terwyl hulle linkervleuel gedruk het. Jaco Hendriks (skrumskakel) van Willing Hearts het teruggeslaan met `n drie wat hy verdoel het asook met `n skepdoel. Rustyd was die telling 10 elk.

In die tweede helfte het Hendriks weer geslaag met twee strafdoele terwyl Jonel Eksteen (flank) die wendrie gedruk het. Harlequins se stut het hul span se enigste drie gedruk in die tweede helfte. Uitblinkers vir die wenspan was voorlangs Randall Wagenaar (stut), Lonton Philander (slot), Jonel Eksteen (flank) en Wilfred Masoes (flank). Agterlangs was Jaco Hendriks (skrumskakel), Graham Hendriks (losskakel), Klaas Masoes (senter) en Johannes Masoes (senter) altyd gevaarlik op die aanval en verdediging.

Willing Hearts skuif met die oorwinning op na die SWD Presidentsliga. Twee van sy spelers, Graham Hendriks (losskakel) en Jaco Hendriks (skrumskakel), is in die SWD O/21 oefengroep opgeneem. Hierdie twee spelers het vanjaar `n groot bydrae gemaak tot Willing Hearts se sukses die jaar.

Baie geluk aan die spelers.

No comments: