Saturday, September 29, 2007

Museumnuus

Soms, net soms, laat my werk by die museum my soos ‘n eilandbewoner voel, alleen en afgesluit van die buitewêreld en van Prince Albert se mense. Dis sulke tye dat ‘n mens jouself afvra: “Wat doen ek hier? Wat wil ek bereik met ou goedjies rondskuif, herrangskik, nommers opsit, uitpak, regpak, inligting stoor. Vir wie doen ek dit?”

Op 21 Augustus stap twee dames van Museumdienste, Linda Labuschagne en Ré le Roux, op uitnodiging, by die museum in. Albei dames is geestes-wetenskaplikes, en kundiges in hul onderskeie vakgebiede. Ons begin deur die vertrekke stap, en terwyl hulle die uitstallings met ‘n fynkam deurkyk, wens ek dat ek ons museum deur húlle oë kan sien.

Linda en Ré het nie kom kritiseer nie! Hulle het hulp en advies kom aanbied sodat ons ons baie spesiale museum nóg interessanter kan maak en die artefakte langer kan bewaar. Van die voorstelle wat geopper is:

Die korrekte beligting in elke vertrek, want té veel of verkeerde lig beskadig die artefakte. Plaas UV op die vensters wat nog nie behandel is nie.
Byskrifte kan vergroot word en ons moet poog om so ver moontlik die inligting in Afrikaans en Engels beskikbaar te stel.
Binne-vensters kan toegemaak word met “soft board” vir meer uitstalruimte.
“Silica Gel” kan in uitstalkaste geplaas word om vog vry te stel, of te verminder, afhangende van die voggehalte in die lug.Ons het nou die name en nommers van verskeie kontakpersone wat bereid is om ons met raad en daad by te staan.

Prince Albert is ryklik geseën met talentvolle mense wat groot bydraes lewer met die bemarking en verfraaiing van ons dorp, dus kan ons meer muurspasie aan huldeblyke afstaan. Sekere areas sal met toue beveilig moet word, en van die oop rakke moet verkieslik glas voor kry. Ons sal egter poog om nie die huislike atmosfeer van die museum te bederf nie.

Die museum is nie ‘n koue, donker gebou vol stowwerige meubels, waar almal moet fluister en kinders verbode is nie. Al die kinders van Prince Albert is welkom in die museum, want dit behoort aan ons almal! Tannie Fransie Pienaar het vir Prince Albert en sy mense ‘n kosbare erfenis nagelaat waarop ons baie trots kan wees en wat ons almal moet help bewaar vir die toekoms. Kinders, kom kuier gerus, en bring sommer vir Pa en Ma saam. Glo my, hulle sal aangenaam verras wees as hulle ‘n slag kom inloer.

Na die besoek van Museumdienste, voel ek nie meer soos ‘n eilandbewoner nie! Linda en Ré kon nie uitgepraat raak oor hoe besonders, netjies, warm en huislik die Fransie Pienaar Museum vertoon nie. Die personeel is nou weer begeesterd en sien daarna uit om die voorstelle wat die dames gemaak het, te beproef en te implimenteer - alles vir ‘n beter museum, een van ons dorp se beste uitvoerprodukte.

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: