Saturday, September 29, 2007

Sonder Nonsens Vreetsaam-Toer kom weer PA toe

Hoe bederf ‘n man sy tweede vrou? Deur haar vir ‘n on-vergeetlike wegbreekweek te neem na onbekende bestemmings! Dit is presies wat die manne met die karre jaarliks doen.

Die “Sonder Nonsens Vreetsaam-Toer” is daardie geleentheid van die jaar waar die tweede vrou …party is regte ou ladies… uit die kas gehaal, afgestof,opgedollie en skaamteloos mee gespog word! En party manne vat sowaar die regte vrou ook saam. Sommige gaan saam om ‘n ogie oor die man en sy tweede vrou te hou.

Ander gaan saam om haar te help om darem soggens styf-styf van die nag se koue aan die gang te kom en weer te purr soos in haar jongdae, maar meeste gaan saam omdat dit heerlik gemoedelik is om weer op die hakke te loop op paaie waarvoor die ou ladies gemaak is …stof en al.

O ja, en natuurlik moet vanity cases met tools saamgaan, dis deel van die pret, die soggens se vroegopstanery en regmakery. ‘n Ou kar breek mos staan-staan! Behalwe party…hulle battery verloor sommer in die ry!

Vanjaar begin die toer op 1 Oktober met ‘n geselskap van 22 motors vervaardig voor 1945 en 42 persone (meeste in dieselfde kategorie). Die rit begin in die Paarl by die Strooidakkerk en reis dan oor Ceres na Touwsrivier, Sutherland (O, die bitterheid van koue sonder ruite en aircons) om die nag van die 3de Oktober in Prins Albert by die Zwartberg Hotel te oornag. Die toer sluit af, na heelwat ompaaie, op Plettenbergbaai.

Dié wat hou van hierdie ou motors kan gerus vanaf die laatmiddag op die uitkyk wees vir hierdie garde in Prins Albert op 3 Oktober. Dis darem een ding wat die babyboomers nagelaat het…’n passie vir die goeie ou dinge!!!!

Veteraangroete.
Gawie Breytenbach

No comments: