Tuesday, April 29, 2008

Grafbemarking – Toe en Tans

-Adri Schoeman-

Op 6 Maart staan ek in die Kerkkantoor toe daar ‘n man inkom en homself aan die Skriba voorstel as Cornell Haak. Dadelik sê ek: “En jy soek seker na my?” Hy is my neef Beaton Haak, se seun. Hy het my kom opsoek om sy ouma se kwitansie vir ‘n graf hier in die begraafplaas vir my persent te gee. Sy ouma (my tannie Helene) is in die tussentyd oorlede en op ‘n ander plek begrawe.

Ons het baie lekker gesels en onder andere het ek hom toe vertel dat ek die graf nie sal neem nie, want my man, Jurgens, het reeds voordat ons trouplanne gehad het, vir my graf hier gekoop. Op my aanbeveling skenk Cornell toe die graf vir die Kerk.

En nou die storie van my graf. In Maart 1958 sterf Jurgens se vader en hy gaan onderhandel met Piet Maagseer wat in beheer was van die begraafplaas. Piet wys hom toe rond en Jurgens besluit op ‘n graf waarop Piet sê: “ Maar ou Jurg, wat van jou moeder?” Net daar koop Jurgens die graf langsaan, waarop Piet sê: “ En wat van jouself, ou Jurgie?” So word die derde graf verkoop en Piet waag dit nog ‘n keer: “Maar ou Jurgie, jy gaan tog seker eendag trou ook?” En dis hoe ek aan my graf gekom het. Wat ‘n dag vir die Kerk – 4 grafte verkoop op een dag!

‘n Paar dae nadat Cornell weg is, vertel ek ‘n familielid van sy besoek, en die sê toe hy dink ek moes liewer die graf gehou het. Eintlik het ek self ook al so begin dink, en besluit om die graf maar te gaan terugkoop. Teen daardie prys kan ek mos maar twee grafte hê, wat. Ek bel die Kerkkantoor – die nuwe prys is PLUS 400%!

Dus het ek nog altyd net die een graf, en sal vir die res van my lewe daarmee tevrede moet wees.

No comments: