Tuesday, April 29, 2008

Prince Albert Local Football Association

- Henriette Liebenberg -

Die sokkerspan, Stars FC, van Prince Albert is die tweede agtereen-volgende jaar die Paasnaweek-toernooikampioen. Die voorsitter van die plaaslike sokkervereniging, Goliath Lottering, sê die span mik om in die toekoms in die Vodacom Liga te speel en is beslis besig om sy stempel behoorlik af te druk in die Sentrale Karoo.

Die Paasnaweek-toernooi moes inderhaas na Leeu-Gamka geskuif word nadat die plaaslike owerheid besluit het dat die nuwe gras op die veld nog nie reg is nie.

Die teleurstelling was groot, en volgens Lottering kon drie van die plaaslike spanne nie aan die toernooi deelneem nie. Tien spanne kan egter speel, met Stars FC wat die eerste prys van R2 500 gewen het. Brazil van Leeu-Gamka was tweede, Kaizer Chiefs van De Rust derde en All Stars van Merweville vierde.

Die Prince Albert Local Football Association wil hiermee hul opregte dank aan National Garage van Prince Albert en Shell Ultra City van Leeu Gamka uitspreek vir hul ondersteuning tydens die Paasnaweek-toernooi. Lottering sê hy is seker dat meer besighede in die toekoms sal bydra om die “liefling sport” in die dorp vorentoe te neem.

Die LFA akkommodeer tans veertien spanne in die Liga en glo dat sokker in sy doel slaag om die jongmanne op ‘n positiewe manier besig te hou oor naweke. Agt van hierdie spanne is in Prince Albert. Klubs word tans ook verder aangemoedig om hul Junior spanne in orde te kry sodat die Junior Liga ook kan afskop.

Alle spanne word sterkte toewens met die Domestic League wat afgeskop het en ons hoop die spanne van Prince Albert vaar sommer baie goed. Lottering sê “Al word sokker ook op grondvelde gespeel, sokker sal daar gespeel word in Prince Albert.”

No comments: