Monday, March 31, 2008

Museumnuus: Stories

Van die beste herinneringe uit my kinderjare, is van Jakomyn wat kom stryk, terwyl ek op die hoek van die stryktafel sit, afwagtend op nog ‘n storie uit die mond van ‘n baas storie-verteller. Ek onthou die reuk van die sissende primus, die warm strykysters, die reuk van die styselmengsel vir die tafeldoeke, maar die beste van als, die wonderlike stories…

Ons is besig om die kuns van storie-vertel, te verloor. Ons jaag werk toe. Ons jaag om met ons werk klaar te kry. Vanaand, tuis, uitgeput, jaag ons nog steeds! Stories en vertellings oor belangrike gebeure, ou rate, pittige sê-goed, en die speletjies wat kinders vyftig of honderd jaar gelede gespeel het, gaan verlore. Die rede? Ons is te besig om hierdie wonderlike inligting, ons erfenis, met ons kinders te deel.
Helena Marincowitz het jare gelede al die waarde van stories (mondelingse geskiedenis) besef toe sy navorsing moes doen om boeke soos Gamkaskloofstories en Kontreistories, te kan skryf. Sy is verlede jaar met ‘n baie spesiale toekenning: The Order of the Disa, vereer: “Her commitment to capturing the oral history of our nation reflected her conviction that history is not about the past, but is instead a window to the future for generations to come. Her oral historiography was premised on what has come to be known as public history of ordinary people that would otherwise be lost.”

Christine Thomas het na wonderlike, en soms baie hartseer stories geluister toe sy besig was om die geskiedenis van ons Kleurlinggemeenskap se verskuiwing na ‘n nuwe woonbeurt, op doek en papier vas te lê. Baba Lekay was bekend vir die stories wat sy met soveel deernis kon vertel terwyl sy met besoekers deur die dorp gestap het.

Ons museum bewaar nie net tasbare dinge soos antieke meubels, fyn dooprokkies en fotos uit vervloë dae nie. Die nie-tasbare dinge soos lewensverhale en historiese gebeurtenisse moet ook vir die nageslag bewaar word. Volkskultuur kan net bewaar word as ons die stories van geslag tot geslag oordra.

Oupas en Oumas: Het u ‘n storie om te vertel? Die museum soek stories. Stories is net so kosbaar soos die boek of bord wat u vir ons wil skenk. Ouers: Vertel vir julle spruite stories. Dit leer hulle om te luister en om trots te wees op hulle voorouers, hul taal en hul erfenis.

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: