Monday, March 31, 2008

DORPS- EN OLYFFEES KOM!



- Jeremy Freemantle/Henriette van Zyl -

Dit is amper weer tyd vir Prince Albert se jaarlikse Dorps- en Olyffees en vanjaar se fees beloof om nog beter en lekkerder te wees as laasjaar. Die fees begin Vrydag 25 April en duur tot Maandag 28ste.

Die organiseerders sê hulle gaan voortbou op die weghol-sukses van 2007 se fees deur weer eens die klem te plaas op plaaslike kreatiwiteit, produkte, talent, ondernemerskap en gasvryheid. Voorsitter Bokkie Botha sê deur 2007 se wenresep te behou en daarop voort te bou sal daar definitief iets vir een en almal se smaak wees. Bokkie sê hoewel daar heelwat te vier is, is daar nog steeds ernstige sosio-ekonomiese probleme wat aandag moet geniet. Hy vra dat inwoners vanjaar hulle harte oopmaak in ‘n opregte gees van eenheid en om waarlik te deel in en saam te werk met die fees. Wandelings deur die dorp sal besoekers kans gee om plaaslike kuns, handwerk, ongewone winkels en interessante versamelings te waardeer. En natuurlik sal daar ‘n groot verskeidenheid stalletjies in die hoofstraat wees. Die koördineerder van die stalletjies, Lisa Smith sê die fees is vir ALMAL en gaan oor vriendskap en gasvryheid.

Die besigtigingstoere deur sekere huise en tuine gaan besoekers ook weer kans gee om te deel in die dorp se unieke argitektuur, ongewone huise en interessante tuine.

Die immergewilde storieverteller Antoi-nette Pienaar is weer terug vanjaar. Sowel sy as haar mentor, oom Johannes, het ‘n baie sagte plekkie vir Prince Albert. En natuurlik moet ons eie storieverteller, Ailsa Tudhope, nie agterweë gelaat word nie. Soos verlede jaar gaan sy weer stories, legendes en staaltjies van verloë dae met feesgangers deel. En moenie vergeet van die geskiedundige, botaniese, argeologiese en kuns-toere en praatjies deur kundiges nie.

Wat betref vermaak is daar ‘n vol program. Prince Albert se “Patchwork” Teater, waarvan al die vertonings verlede jaar uitverkoop was, bied vanjaar “Treasure Island” aan. Die veelsydig akteur, Bryan van Niekerk, bied ‘n toneelstuk aan vir kinders, en wees gewaarsku – ‘n toneelstuk slegs vir volwassenes. Kabaretster, Leon Buchner, is ook weer terug met Jacques Brel, ‘n fliekfees word beplan, met die hoogtepunte Jans Rautenbach se “Katrien” en “Die Kandidaat”. Die flieke sal gehou word in die nuwe teater wat na hom vernoem is.

Musiek gaan natuurlik ook weer deel vorm van die Fees. Ons eie Brain Finch bring elke middag hulde aan Bob Dylan en saans gaan hy mense se voete laat jeuk. Vermaak-koördineerder Imke Maeyer sê nie net gaan die Riebeek Kasteel “ Steel Band” optree nie, hulle gaan ook ‘n werkswinkel vir die jonges aanbied. Die Kieliebeentjies-orkes gaan aan Afrikaans aandag gee om geld in te samel vir Hoërskool Zwartberg. En wat sal ‘n fees nou wees sonder die Kaapse Klopse?

Om absoluut seker te maak dat niemand verveeld is nie, word blomme-uitstallings, vlam-dansers, ‘n fotografiese uitstalling en Mnr en Mej O’lyfie aangebied. Jong mense hoef nie afgeskeep te voel nie, want vir hulle gaan daar ook iets wees. Benewens ‘n sterkman-kompetisie, word ‘n pret-loop gehou en word gesoek na die Groot Karoo se olyfpit-spoegkampioen. Of dalk is jy lus om te leer oor witblits – stook. Of wat van ‘n sterrekyk-toer?

Die feesprogram sal voor die Fees beskikbaar wees op die Toerismeburo se webwerf: www.patourism.co.za asook in die vroeë April-uitgawe van die vriend.

Vir verdere inligting kan die Toerismekantoor gekontak word op
023 5411 366 of per e-pos by:
princealberttourism[@]intekom.co.za.

No comments: