Monday, March 31, 2008

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

Herfs is nou al met duidelike tekens waarneembaar : die langer nagte, die geel blare en die koeler aande. Herfs is ook die tyd wanneer ons vir Orion en die Skerpioen in dieselfde nagte kan waarneem met laasgenoemde wat deur middel van sy giftige steek tot Orion se ondergang aanleiding gee.

Die ware Herfssterrebeeld is egter Leo, die Leeu, wat vanjaar besonders belangrik is omdat dit die planeet Saturnus huisves. Saturnus met sy ringe van die kant af gesien, gebeur nie so dikwels nie en is selfs vir ons `n asemrowende sig.

In April kan mens waarneem hoe Saturnus nader aan Regulus, die hoofster van Leo, beweeg dáár teen die einde van die maand tot stilstand kom en dan in Mei weer wegbeweeg in die rigting van Spica in Virgo. Dit sal die einde van Saturnus se opposisietydperk aandui en hy sal beduidend dowwer word. Op die 15de April sal Regulus, Saturnus en die maan `n mooi groepie vorm.

Venus is as helder Oggendster nog net vir `n kort rukkie voor sonop te sien en sal binnekort te naby aan die son wees vir waarneming en sal eers weer in Augustus as die Aandster vir ons sigbaar word.

Mars beweeg vanaf die horings van Taurus na Gemini en dan al vinniger deur Leo na Virgo en Libra.

Jupiter word al groter en helderder in Sagittarius maar mens vind hom makliker deur vir die Teepot te soek.

Die maan is nuut op die 6de April en naby aan die aarde op die 7de, ongeveer
361,000 km; altyd `n goeie kombinasie vir reën in die Kaap.

Volmaan is op die 20ste, wat beteken dat die maan in sy laaste kwartierfase sal wees tydens die Prince Albert Dorps- en Olyffees. Dit sal dus `n goeie tyd vir sterrekyk wees.

Op die oomblik is veral die omgewing van die drie kruise baie pragtig in die suide bokant die Swartberge en die Groot Magellanse Wolk kan nog baie
duidelik gesien word.

Hou die sterre in u oë !

No comments: