Monday, March 31, 2008

Ons ryers ‘tem’ die ‘Argus’

- Denise Ohlson -

Sewe fietsryers van Prince Albert het aan die baie suksesvolle 31ste Argus Fietstoer in Kaapstad gaan deelneem. Volgens klas het hulle op verskillende tye weggespring by die Parade in die Moederstad. Van daar het hulle dapper tot by Vishoek getrap en tot by Chapman’s Peak gevorder… Nog dapperder het hulle Suikerbossie ook oorwin, en na die laaste steilte by Kampsbaai het hulle die persoonlike oorwinning gesmaak om die mylpaal by Groenpunt te bereik – na 109 km in die saal.

Lulu Jooste het haarself weer as ‘n voortrapper bewys deur eerste in die groep te wees met ‘n tyd van 3uur 11 minute. Onder die vrouejaers in die resies was sy 5de junior dame. Sy het hard probeer om ‘n “sub drie” te ry, maar het net-net nie geslaag nie.

Tweede in die Prince Albert-groep was haar pa Chris met ‘n tyd van 3uur en 19 minute.

Vervolgens was dit Johan Fourie 3:40, Dawid Rossouw 5:00, Jamie Botha 6:26, Tanya Odendaal 6:47 en onse Bokkie Botha het met sy 6:56 die afsnytyd van sewe uur met vier minute getroef!

Hou maar gerus vir Lulu dop – sy word dalk nog die jongste vrou om hierdie wedren te wen.

No comments: