Thursday, January 1, 2009

Me BADISA Gekroon

- Ilze Koorts -

BADISA Prince Albert het vanjaar vir die eerste maal ‘n Me BADISA Kompetisie aangebied. Nastassja Claassen, aflos-gemeenskaps-ontwikkelingswerker, het die kompetisie in Prince Albert, Klaarstroom en Leeu-Gamka (die bedieningsareas van BADISA) van stapel gestuur. Uitdunne is op Klaarstroom, Leeu-Gamka en Prince Albert gehou, waartydens vyf finaliste uit elke dorp gekies is. Onafhanklike beoordelaars is in al drie dorpe gebruik. Die kriteria waarvolgens elke deelnemer beoordeel is, was: ritme, houding, toepaslike drag en spontaniteit.

Op Saterdagaand 13 Desember 2008 is die finale rondte van me BADISA in die VGK Saal, Prince Albert aangebied. Al vyf finaliste van elkeen van die drie genoemde dorpe het na Prince Albert gereis om te kom meeding om die kroon. Die meisies was almal pragtig. Daar is hard geoefen en hul het in die afdelings Slenterdrag en Formeel deelgeneem. Baie moeite is ook deur hul afrigters gedoen. ‘n Goeie opkoms is beleef en die gehoor het ywerig aan die kompetisie deelgeneem

Na ‘n moeilike keuse is Anneline Jonkers (Prince Albert) as me BADISA 2008 gekies. Haar prys is meer as R 500 werd. Haar prinsesse was Pokkies (1e prinses) en Samarin (2e prinses). Hul pryse is ongeveer R 100 – R 200 werd.

Baie geluk aan die wenners, maar ook aan elke pragtige meisie wat deelgeneem het. Julle het ALMAL pragtig gelyk!

No comments: