Thursday, January 1, 2009

Water - Die Munisipaliteit Verduidelik

Op die Vriend se navraag oor bekommernisse oor die toestand van die dorp se water, het die Waarnemende Munisipale Bestuurder die volgende persverklaring uitgereik. Ons wil hom bedank vir sy spoedige reaksie op ons navrae en ons nooi graag ons lesers uit om enige kommentaar en idees oor hierdie belangrike aangeleentheid met ons te deel.

Die Raad besef die erns van die waterprobleem terdeë. Daar word voortdurend aandag gegee en beplan om die kwaliteit, veral t.o.v. kleur en smaak, te stabiliseer.

‘n Vaste span amptenare vergader op gereelde basis om alle ondersoeke en resultate te bespreek.

Die getal pypbarste, die feit dat al die pype en almal behalwe een reservoir die afgelope jaar nie gespoel is nie en moontlik ook die verhoogde byvoeging van boorgatwater kan ‘n invloed hê.

Alhoewel ons outomatiese chloor-toedieningsapparaat doeltreffend funk-sioneer, is dit ‘n raaisel hoekom die chloorvlakke op verskillende plekke varieer. Chloorlesings wat geneem word behoort die hoogste te wees naby die toedieningspunt. Daaglikse toetsresultate wys op die meeste plekke normaal te wees.

Plekke waar die water die meeste gekleur is, toon ‘n verhoogte chloorlesing. Dit is nie normaal nie. Die vermoede van kenners is dat nagvloei/gebruik afneem en die chloor die neerslag in die pype losmaak. Sodra die spitsvloei in die dag toeneem – veral op Maandae – word die afsaksel in die waternetwerk versprei.

Opnames is reeds gemaak oor al ons pypleidings se ligging en ouderdom, sowel as plekke waar lekkasies voorkom. Gebreke in die verband geniet aandag. Handleidings vir alle waterinstallasies word in die vooruitsig gestel sodat kundigheid nie net in enkele persone se hande is nie.

Daar word ook beoog om in samewerking met Caledon-water (met 40 installasies onder hulle beheer) ‘n omvattende kwaliteitsontleding te doen.

Wees verseker dat geen steen onaan-geroer gelaat sal word om ‘n oplossing vir die probleem te kry nie.

D J Rossouw
Wnde Munisipale Bestuurder

No comments: